“Hier-kiep-kiep-daar-kiep-kiep” sing Lena met besem in die hand.
Trap mooi, trap versigtig ek maak die groot huis aan die kant.
Agter die koffie tafel se bal-en-klou-poot skuil daar ’n korreltjie sand
“Hier-kiep-kiep-daar-kiep-kiep” maak onse Lena die vullis van kant.
Lena, met die geblomde kopdoek en groot voorskoot aan skuiffel-stap
Uit haar mond sonder tanne hoor mens wyse woorde ontsnap
Lena se wyse woorde laat almal in die huis soms na hulle asems snak
Dan saans as dit donker word, bêre ek die wyse woorde in ’n ou lap-sak.
Op ’n reënerige dag maak Lena vir ons Vetkoek en stroop
Sy maak die soetste rooibos-tee waarin ek my vetkoek doop
Ek wikkel my tong toe in die soettigheid van die goue stroop
Ek vat groot slukke van die rooibos tee, want dis soet soos stroop
Wanneer Lena op die geelhout- vloer die gang af stap, hoor jy ’n gekraak
Lena sê altyd dis maar die vloer se manier om saam met haar te praat
“Ag Lena, ’n vloer kan mos nie praat nie” maar Lena glimal en sê “Hy praat”
Dis dan wanneer Lena weer lewe in ons huis bring, want die vloer kan praat.
“Hier-kiep-kiep-daar-kiep-kiep” sing Lena met besem in die hand.
Trap mooi, trap versigtig ek maak die groot huis aan die kant.
Kom sit hier langs my op die stoeptrap, kom vat my gevlekte hand
Want in my hand skuil wyse woorde, dit maak jou siel aan die kant.
Lena is nie net ons huishulp nie. Lena is nie net skoonmaker nie, nee
Lena is ook moeder, versorger en iemand wat vir ons liefde gee
Om 11 uur in die oggend sit sy die ou ketel aan vir ’n koppie rooibos tee
Dis dan wanneer die son by die venster inloer om warmte vir ons te gee.
Ek dank die Here God elke dag vir iemand soos Lena in ons huis
Al is hierdie huis ’n halwe huis sonder pa, bly dit tog ons eie huis
Lena regeer hierdie halwe huis stewig maar haar yster vuis
want hier, in hierdie halwe huis, weet ons tog is almal ewe tuis.
Baie mooi. Lena klink na n besonderse mens.
LikeLike