DIE MUNTLEGGING

Dit het alles begin die dag met die muntlegging in Tweeling. Almal was daar.

Al die Kennedys wat langs die treinspoor gebly het het gekom, die Vernon vrou van die Tuisnywerheid ook. Sy het bakke vol Koue Dadelpoeding gebring, Sneeupoeding, Sponsvingers en Gestoofde Appels met Lemoensap.

“Tydens ’n muntlegging byeenkoms moet daar gestoofde appels wees.” het die Vernon vrou gesê.

Só kom die hele dorp bymekaar om munte te lê ten bate van die ouetehuis se opknapping. Met daardie geld gaan die gebarste pype reggemaak word, lekkende dakke gaan toegemaak word (ek hoop die lekkende tannies ook) sê Tannie Hessie vir my.

Tannie Hessie is nou nie juis aan vir sulke byeenkomste nie, maar sy het gehoor van die Vernon vrou se lekker gestoofde appels en besluit maar om van die verbode vrug te gaan proe.

“VREDE” moet nou op die parkeerarea se vloer uitgeskryf word met bordkryt en dan kan mense nou al hulle kleingeld bring om die VREDE met geld te bedek.

“Ja, die Centpenlilly-vrou en haar niggie is ook hier,” fluister Tannie Hessie Benson vir my
“Los maar eers Tannie” sê ek.
“Dis van los dat ons sit waar ons sit vandag.” sê Tannie Hessie.

“More, Hessie” groet die Cenpentlilly vrou in die verbystap om VREDE te begin uitskryf op die grond.
“More” sê Tannie Hessie.
“Kindjie, daardie vrou gaan weer alles bedonner. Sy verbeel haar te veel. Kyk hoe lyk sy. Sy lyk so platgeval soos souskluitjies wat se deksel jy te vroeg opgelig het. So kan mens nie loop nie. Kyk haar voete, lyk soos ‘n kersfeesgans s’n”
“Tannie moet nou maar terughou vandag, dit gaan vir ‘n goeie doel” sê ek.

“Ek hoor stemme” sê die Hitchroth vrou

“Die vrou hoor glo stemme van haar man die dag dood is. Toe hy die emmer geskop het, het sy haar selftrots verloor en begin lyk soos vla-snysels. Nee man, so kan mens nie tussen klomp mense bly nie. Ons moet iets doen” sê Tannie Hessie.

Ek probeer keer, maar niks help nie. As Tannie Hessie op loop is met ‘n ding, dan loop sy nie net nie, maar sy hol sommer ook.

Die Centpentlilly vrou staan so terug, bekyk haar skryfwerk op die grond en kondig aan:
“Julle kan nou maar begin pak. VREDE is gereed. Bring die kleingeld” sê sy.
Die Vernon vrou maak haar bakke oop en die reuk van gestoofde appels en dadelpoeding trek deur die lug.

Mense pak munte uit, ‘n koor sing ‘n Halleluja lied, Hitchroth vrou bly stemme hoor, DONKER STEMME, soos sy dit sê.

Toe een van die weeskinders die laaste blink sent lê om die woord te voltooi, kom daar ‘n donkerte oor die ouetehuis se parkeerarea.

“Ek hoor die stemme duidelik. Ons moet oppak en gaan” sê Hitchroth in ’n diep stem, baie stadig en dramaties.

“Ek het julle mos gesê julle vang ‘n ding aan wat julle nie behoorlik kan klaarmaak nie” gil Tannie Hessie vir Cenpentlilly.

‘n hele swerm pikswart kraaie kom oor die parkeerarea gevlieg, tel elke blink geldstukkie op en vlieg weg. Al wat oorbly is die bordkrytlyne op die vloer.

“Sien julle, vir wat sukkel julle met dinge waarvan julle niks weet nie. Cenpentlilly het VREDE verkeerd gespel, sy het VERE geskryf en dit het die kraaie gelok” skreeu Tannie Hessie nou verwoed.

Nou het ons niks nie, behalwe ‘n halwe Vlasnysel en ‘n platgevalde souskluitjie….Niks nie…..Ek gaan huistoe. Koebaai….en daar stap ek en Tannie Hessie straat af en ek verbeel myself ek sien ‘n smile op haar gesig.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: