Daardie dag toe sy die penvriend advertensie onder die boom gelees het, gaan daar ’n hele wêreld van letters, briewe, posseëls, koeverte en skryfblokke vir my oop.
“Ek hou van die buitelewe, dans, musiek en visvang. Ek versamle seëls as ’n stokperdjie Ek is ’n lidmaat van die NG kerk. Vriende met sober gewoontes en nie rokers kan skryf. Ek is 21 Jaar oud. Bulletjie van Buffelsfontein”
Ek en Timothy het so gelag oor die sober gewoontes en Visvang.
“Mense wat visvang is almal dronklappe” het Timothy gelag.
Lees nog een, het ek gesê
“Ek is Rosie van Reitz. Ek soek penvriende wat van klassieke musiek hou. Mans vriende tussen 20 en 25 kan skryf. Ek hou van die natuur, bak en naaldwerk. Nie drinkers en rokers.”
Timothy het klomp briewe gekry en sy het dit altyd vir my voor gelees. Dan het sy teruggeskryf en soms het sy gevra dat ek moet help met die terugskryf.
Ek het elke weet ’n brief geskryf aan verskillende mense, maar niemand het ooit teruggeskryf nie. Dalk het ek verkeerde woorde geskryf. Maar dis tog Godsonmoontlik, want ek het dan help skryf aan Timothy se briewe en die mense het altyd gesê hoe wonderlik mooi sy kan skryf.
Geen mens sal ooit weet hoekom ek nie ’n brief gekry het nie.
Dit het nou elke week se ding geword om onder die peerboom te sit en briewe lees, EN skryf. Dan het Tannie Hessie van die voordeur af geroep sodat Timothy moet help met die kosmaak vir die Loseerders.
Neef, het sy een dag gesê. Ek kan nie meer so kook nie. Ek weet nie eens wat om te maak nie. Ek het al Hoender gemaak, Vis, Skaaprib, afval en you name it. My gedagtes is nou heeltemal op.
Timothy, het ek gesê. Jy moet ’n spyskaart opstel. Maandag Tot Sondag. Dan volg jy die spyskaart. Maandag begin jy tot en met Sondag en dan begin jy van voor af. Dan hoef jy nooit te dink wat om te maak nie. Dis maklik. Ek sal jou kom wys, het ek gesê.
Ons het ’n hele middag na skool gevat en spyskaart skryf. Eers rofweg op ’n stuk papier.
Maandag: Skaapboud, groenbootjies, Mash en ’n dik sous .
Dinsdag: Frikkadelle, gebakte aartapples en Tamatie en Uie slaai.
Woensdag: Bobotie en geel rys
Jy sien, jy kan sommer baie Bobotie maak, het ek gesê, en dit in die vrieskas sit. Dan volgende Woensdag hoef jy nie te kook nie, net ontvries.
Donderdag: Skaaptjops, rys en aartappels.
Vrydag: Ek kan nie onthou nie….nog iets
Saterdag: Sommer net maalvleis en iets ligs
Sondag: Groot kook
Ons het dit vir Tannie Hessie gewys en sy was baie in haar skik gewees. Sy was trots op ons om haar so mooi te help.
Mens kan nie wasgoed doen en nog kook nie. Dankie vir julle hulp, het sy gesê.
Ons het toe die spyskaart op ’n mooi stukkie skryfblok, dieslefde wat Timothy vir die penvriende gebruik het, geskryf, in my Sondaghandskrif en dit vir die loseerders gegee.
Ek het toe vir haar gesê dat ons onder aan die spyskaart moet skryf dat indien ’n loseerder nie hier wil eet of planne vir die aand het nie, hy ten minste een dag voor die tyd vir ons laat weet.
Die skaapvleis in die slaghuis was duur. Mens sou dink dat die slagter dit dalk aspris duurder gemaak het, vir die losieshuis, want die losieshuis het elke week klomp vleis gekoop. Ek het al gehoor die slagter sê dat Ou Hessie nou sy beste klieent is. Dis toe op ’n dag wat ek vir my pa gevra het of hy nie weet van ’n boer hier in die distrik by wie ons direk ’n skaap kan koop nie.
Ja, het my pa gesê. Die Van Jaarsveld ou aan die suide kant van die dorp.
My pa het met Van Jaarsveld gaan praat en hy het ingestem om ’n heel skaap aan ons te verkoop en dit selfs op te saag en in pakkies verpak. Dit was baie goedkoper. Elke keer as hy na die Losieshuis toe gekom het om af te lewer, het ek gaan help dra aan die pakkies vleis wat netjies met wit plakkertjies gemerk is.
Tjoppies
Nek tjops
Boud
Rib
Elke keer as Van Jaarsveld met sy groot bakkie voor die Losieshuis gestop het, het ek uitgestap, gegroet en gehelp dra. Hy was ’n baie vriendelike man. Laat 20’s gewees. Bree skouers, regop geloop, groot hande en hy het pure plaas geruik. ’n Mens kon aan sy hande sien dat hy ’n hardwerkende man is . Hy was baie vriendelik met my, dalk té vriendelik, het ek soms gedink, maar ek het nie omgegee nie Hy het in sy diep stem gegroet, sy hand uitgesteek en my hand stewig gedruk. Dan het hy met daardie diep, blou oë vir my aangekyk asof ek ’n advertensie is.
Soms het hy na die losieshuis toe gekom sonder ’n bestelling. Sommer ’n botteltjie kerrieboontjies gebring of pampoen wat klaar geskil en opgekerf was. Ek het van hom gehou.
Hy het soet tee gedrink, seker drie lepels suiker. Hy het nie van die skinkbord idee gehou met ’n suikerpotjie, melkbekertjie en ’n blommetjie by nie. Net so eenvoudig en maklik.
Gooi sommer die suiker en melk in, het hy in ’n diep stem gesê.
Ek en Timothy het ’n goeie span gemaak in die Losieshuis. Sy het eendag, toe Van Jaarsveld so wegry vir my gesê :
“Gawe boer die Van Jaarsveld ou. En ’n mooi man daarby ook” Net dit, dis al. Ek het niks gesê nie.
Leave a Reply