Dis nou nie juis ‘n ‘saamry” brief nie, maar sommer net ‘n dood eenvoudige ‘saamstap’ brief.
Laatmiddae, as die groot reëbui en storm verby is en die son maak alles om my blink, gaan stap ek my gewone paadjie deur my tuiste, die Aftree-oord in Kempton Park.
Terwyl mens so stap, dan breek die groot dink in jou uit. Soos die moderne mense nou sal sê “jy mediteer”.
Omdat ek nie meer vandag se kind is nie en lank in die tand is, stap ek maar stadig, maar dis vir my ‘n plesier.
So in die stap eet ek aan die nartjie wat Stanley vir my bring. Stanley kon my kleinseun gewees het en hy kom kuier gereeld by my of stap soms saam.
Die eerste huisie waar ek verby stap, behoort aan Miems. Daar lê ‘n baie diep jammerte in my vir Tannie Miems.
“Middag Hessie. Hoe gaan dit met jou? Waarheen is jy oppad? En hoe gaan dit met Timothy (Dis nou my dogter)? Het sy goed gevaar in die eksamens?”.
Tannie Miems kan nie meer onthou nie. ‘n Gevaarlike siekte wat se naam ek nie ydel gebruik nie. Timothy is wel my dogter, maar sy is ryk getroud en woon al 8 jaar in Ierland. Tannie Miems het nog vasgesteek by die gedagte dat Timothy nog in Matriek is.
Dan stap ek verby die bedding met die Krismisrose in. Daardie blou wat soos ‘n koningskleed pronk. Die bedding perfek gemaak deur Markus wat in die tuin werk.
“Middag Mêrrim. Hoe gaan dit met Mêrrim?” altyd vriendelik en soos hulle sê: VRIENDELIKHEID KOS NIKS.
Verder in die paadjie af, stap ek verby Toos van Tonder se plekkie. Hy spog met die mooiste groentetuin, sommer so op die sypaadjie. Dan groei daar nog kruie voor sy kamervenster, glo om die vlieë en muskiete weg te hou. Ek weet darm nie so lekker van daardie bygeloof nie, maar elkeen maar vir homself.
Oom Toos van Tonder het g’n kind of kraai nie. En dit laat ‘n baie diep jammerte in my siel vir hom kom lê.
“Middag Hessie. Kom in vir ‘n koffie. Kom kyk hoe vorder my beetplantjies. Kan jy nie help met die aanwerk van ‘n knoop vir my baadjie nie?” Altyd net vrae wat hy vra. En dis eensaamheid wat ‘n mens sulke vrae laat vra. Niemand kom kuier ooit by hom nie. Ek kyk na die plantjies, drink ‘n koffie en werk sy knoop aan. Net om volgende week weer dieslefde plantjies te kyk en dieselfde knoop weer aan te werk.
So in die wegstap van Oom Toos Van Tonder af, bid ek vir hom en vra onse Here om sy eensaamheid ligter te maak en iemand vir hom te stuur om te kom kuier. Al is dit net iemand wat ook ‘n nartjie vir hom kan bring.
By die laaste draai, waar die perskebome sommer so trots staan, stap ek verby ‘n baie dierbare vriendin se huisie verby.
Sy het altyd ook op die stoepie gesit en groet en ge-hoe gaan dit, wat maak jy, waarheen is jy oppad, hoekom stap jy alleen, wie is die outjie wat saam met jou stap?…..maar vandag is sy nie op haar stoep nie. Haar gehekelde kombersie lê alleen op die rystoel. Die tuinhekkie halfpad oop. Die kantgordyn lyk of hy tong uitsteek deur ‘n halfoop venster.
Tannie Leonie is nie meer met ons nie. Sy het laasnag gegaan. Soos ons nou maar hier in die aftree oord sê “DIE ENGELE HET HAAR KOM HAAL”
Ek voel hartseer.
Terug by my huisie gaan sit ek op my stoepie, kyk na die Gesiggies wat mooi blom, bewonder die Malva wat sterk bly staan, glimlag vir die Pitunias wat so gewillig blom en ek sê dankie vir die liewe Here dat ek oud is, maar dat ek nog wel gesond is. Dankie dat ek kan stap, dankie dat ek met my medemens kan praat en dankie dat ek my Byble snags kan lees.
Ek het nou saamgestap. Dankie vir ‘n mooi skryfsel.
LikeLike
DANKIE dat jy dit lees.`!……
LikeLike
Dis een van my gunsteling draaiplekke! Altyd iets om na uit te sien. Groetnis.
LikeLike
baie dankie my mens. ek gaan binnekort ‘n boek uitgee…jy moet hom aanskaf. Dit gaan pret wees
LikeLiked by 1 person
Hou op hoogte, en bespreek solank vir my een, sal jou graag ondersteun!
LikeLike
Ai, klink goed, ek brand natuurlik altyd om fotos oor die plekke waaroor jul skryf.
LikeLike