KARELTJIE

So twee huise van ons af het Kareltjie en sy ma-hulle gewoon.

Na skool het Kareltjie altyd na my toe gekom, dan maak ek vir ons visvingers en kaasbroodjies en aanmaak koeldrank.

Kareltjie was een van daardie kinders wat goed was met alles. Van rugby tot atletiek.

Op ‘n dag, na skool, kom Kareltjie weer by my vivingers en kaasbroodjies eet. Hy vra toe of ek nie saam met hom wil swem nie.

Ek sê toe “Nee dankie, dis net my sussies wat die swembad gebruik, maar jy is welkom”

Kareltjie trek sy hemp uit en spring in daai swembad. Dis nie net die randjie om die swembad wat nat geword het nie.

Ek het op ‘n seilstoel gesit en my verkyk aan Kareltjie in die swembad. Hy was so gemaklik in die water. Hy was mooi.

Toe Kareltjie uit die swembad klim en met sy nat lyf langs my op ‘n seilstoel kom sit vra hy:

“Wat wil jy word as jy groot is?”

“Ek weet nog nie. Ek het nog nie so ver gedink nie.” Het ek skaam gesê

“Ek wil ‘n brandweerman word.” Het hy trots gesê.

Ek wou nog iets oor die brandweerman en die brandblusser sê toe ek na sy nat broek kyk, maar besluit om stil te bly. Ek het vroeg in my lewe geleer om stil te wees.

“Jy moet in die kunste gaan” sê Kareltjie vir my.

“Ek sal daaraan dink”

“Nee, jy moet dit doen. Moenie dat hulle vir jou iets anders vertel nie. Word ‘n aktuer. Moenie jou steur aan die ewige hel se vlamme wat jou gaan brand nie. Ek het gehoor toe die dominee dit vir my ma gesê het. Hy was by ons vir huisbesoek en kollekte ,toe ek dit hoor. Die dominee het jou glo eendag in jou ma se rok sien stap, al om die swembad.” het Kareltjie aangehou.

My mond het oopgehang.

Weereens het ek geleer om niks te sê nie.

 

 

 

Daardie woorde het deur my hele hoëskoolloopbaan in my kop vasgesteek. Veral die ewige helse vuur wat my gaan bykom.

 

Jare later tydens my universiteits dae toe ek vreeslik gewaagd was met my kleredrag en met make up ge-eksperimenteer het, loop ek vir Kareltjie die dag by die kantien raak.

“Jy het sowaar kom kuns swot” het hy gesê, my omhels en gelag.

“Drama” sê ek

“Dis goed, ek het jou mos gesê” sê Kareltjie

“Wat doen jy”? vra ek

“Ek is ‘n brandweerman. Ek het mos op skool gesê dis wat ek gaan word, en ek het. Vertel my alles van jou. Waar bly jy nou? Nee, ek sal vir jou toebroodjie en koffie betaal. Ek skuld jou in elk geval vir al daai lekker visvingers en kaasbroodjies wat jy gemaak het toe ons op skool was”

Ek het vir ‘n oomblik gedink dis ‘n engel wat op my kom lê het.

 

Ek en Kareltjie het mekaar weer so paar keer gesien en hy het al mooier geword in sy Brandweerman klere. Ek het al vreemder geword.

 

Tot op ‘n dag.

 

Ek en Kareltjie was weer by die kantien.

“Mense soos jy moet in die ewige vuur brand” het iemand agter my gesê. Dit was ‘n teologie student.

“Dis ‘n sonde in die oë van die Here. Die helse vuur gaan jy beetkry en vir jou brand tot in alle ewigheid.” Het die teologie student aanghou.

Ek het stil gebly. Kareltjie het na my gekyk, geglimlag en gesê : “Kom ons eet gou ons broodjies dan gaan wys ek jou iets”

“Nee, ek kan nie” het ek gesê

“Jy gaan saam met hom brand as jy met mense soos hy meng” sê die teologie student

Ek bly stil

Kareltjie bly stil.

Die teologie student het nog ‘n paar woorde oor die hel en die vuur gesê, toe Kareltjie opstaan en wegstap. Ek bly alleen by die tafeltjie sit met ‘n prekende teologie student. Dis die eensaamste en bangste wat ek nog ooit in my lewe gevoel het.

Maar toe gebeur ‘n wonderwerk.

Kareltjie kom om die hoek gestap, bloedrooi uniform, harde hoed op sy kop, handskoene, groot bootse en ‘n groot, rooi brandblusser in sy arms.

Hy hou daai brandblusser so in sy arms vas soos wat ‘n bruidegom sy bruid oor die drumpel sal dra.

Teen hierdie tyd is ek so deurkemaar ek sluk my toebroodjie heel in, gooi die laaste koffie in my keel af en net voordat ek wou opsring en weghardloop, spuit Kareltjie vir my met daai Brandblusser. Dis net wit skuim waar jy kyk. Oor die tafel, oor my gesig, oor my pikswart klere, my mooi skoene, my hare, my gesig tot my hande. Alles toegespuit in die witste wit skuim. Amper soos die wit skuim van branders wat op die strand breek.

Net voordat ek kon kwaad word, sê Kareltjie:

“Moenie worry nie. Daardie helse, ewige vuur-vlamme sal jou nooit bykom nie. Ek het hulle geblus” en hy vee met sy hand die meeste skuim van my gesig af.

Hy kyk my diep in my oë wat soos pierings deur die skuim loer en sê:

“Ek sal uitkyk. AS daar ‘n vlammetjie is sal ek hom blus. Jy hoef nooit vir die vuur bang te wees nie, want nou is jy ‘n engel. Kyk hoe mooi wit is jy”.

Kareltjie het my hand gevat en ons het deur die tuin gestap. Ek, spierwit geskuim, en Kareltjie met ‘n bloedrooi uniform en ‘n brandblusser in sy arms.

Advertisements

One thought on “KARELTJIE

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: