DIE DINER

Hulle sê dat die koffie by hierdie Diner die lekkerste koffie in die dorp is, maar vir my proe koffie soos koffie.

 

Die rede hoekom ek na hierdie spesifieke Diner toe kom, is nie die smaak van die koffie nie. Dis die tafel in die hoek met die sypaadjie uitsig, die kelner se denim en die ginmasium wat op die oorkantste hoek is waar duisende engle in tights in en uit gaan.

 

 

Elke middag om vier uur stop daar ‘n pikswart motor voor die Diner. Soms is daar nie parkering nie, dan, soos hulle sê “Double Park” hy tot duisende engele in tights se ontsteltenis. Dan vir daardie paar minute wanneer die swart kar stop en sy klim uit, vergeet ek vir ‘n oomblik van die kelner se jeans en die engele wat in en uit en ek staar die vrou wat uitklim skaamteloos aan.

 

Dis die stylvolste, mooiste, elegantste vrou wat ek nog ooit in my lewe gesien het. Soos baie mense sal sê: “Sy het daai iets”.

 

Wanneer sy by die kar uitklim, maak sy die karkdeur toe en stap reguit na die Diner toe. Sy kyk nooit terug of waai vir die ander persoon in die kar nie. Die kar trek weg en verdwyn.

 

Sy gaan staan gewoonlik voor die venster van die Diner, kyk stip na die venster, trek haar romp reg en soms trek sy aan haar sykouse net om seker te maak sy lyk perfek.

Ek het al begin wonder of die vrou nie ‘n spieël by die huis het nie.

 

Sy maak dan ‘n groot, wit sambreel oop, kyk vir die laaste keer deur die venster en stap weg. As dit die dag reën , het sy ‘n sambreel, as die son skyn het sy ‘n sambreel en as dit net bewolk is ook die sambreel. Die vrou fassineer my vreeslik. Sy het daardie kyk in haar wat mens nie weet of sy jou raaksien of nie.

 

Sy verdwyn om die hoek, soms by die vrugte winkel in, koop ‘n paar appels, perskes en ‘n trossie druiwe. Dan stap sy na die telefoon hokkie toe, bel iemand en praat gewoonlik so 10 minute lank. Vir daardie tien minute is my aandag weer by die jeans en die engele in tights.

 

Ek weet dis 10 minute, want by die tyd wat die kelner my tweede koppie koffie kom skink, praat sy nogsteeds. Twee koppies koffie se drink is ‘n tien minute drink.

 

Dan gebeur die snaakste ding. Sy kom staan weer voor die venster met haar sambreel, kyk deur die venster, trek aan haar romp en sykous en waai vir die kelnder. Hy waai terug.

 

Dan stap sy by die Diner in. AS hy besig is om my derde koppie te skink, los hy gewoonlik die spul net so en ek kry ‘n halwe koppie koffie, maar dit pla my nie. Hy stap met die koffie-kannetjie in sy regterhand vinnig na haar toe, soengroet haar op die wang en glimlag. Dis mooi. (Die glimlag, ek bedoel)

 

Sy gaan sit op die die regop stoel by die toonbank naby die koffie masjien en kruis haar bene oormekaar.

 

Die kelner bring vir haar koffie in die mooiste, witste, fynste koppie, sonder dat sy eers vra. So asof hy presies weet wat sy drink.

“Hulle ken mekaar seker goed” dink ek.

 

Sy hou dan die koppie met haar duim en wysvinger vas, vat klein slukkies koffie en as sy klaar is, sit sy die koppie mooi terug in die piering en stoot dit net so sentimeter of so weg, met die punte van haar vingers. Sy het altyd klein en stadige bewegings. Dis wat haar so elegant maak.

 

Sy staan op, vat die mandjie groente en hou die sambreel so in die middel vas, so asof sy wil keer dat die ding nie moet oopspring in die Diner nie.

 

Sy kyk nooit rond nie.

Stap reguit deur toe, maak die deur stadig oop, wag op die trappie wat ‘n seildakkie oor het, maak die sambreel oop en draai dan weer venster toe. Sy kyk vir die laaste keer deur die venster en doen alles van voor af. Romp, sykous en ‘n staar asof sy niemand sien nie.

 

Hoe die groot swart kar weet dat dit tyd is om haar weer te kom oplaai, sal g’n mens ooit weet nie, maar daardie kaar is nooit laat of nooit vroeg nie. Net op tyd.

Dan is sy weg.

 

Hierdie storie gebeur elke dag, behalwe Sondae wannneer die Diner toe is.

 

Tot op ‘n dag wat die wonderlikste ding met my gebeur.

 

Die swart kar stop weer, sy klim uit, sambreel oop, romp, sykous, telefoon hokkie vrugte en dan kom sy in vir koffie. Die kelner soengroet op elke wang, my koppie dan soos gewoonlik halfpad vol.

 

Sy gaan sit by die regop stoel, kruis haar bene, maak die sambreel staan op sy dun puntjie. Vandag let ek vir die eerste keer op dat die sambreel puntjie net so dun is soos haar stillettos. Dis ongelooflik mooi.

 

Maar op hierdie dag draai sy haar kop stadig om, kyk na my en in haar oë sien ek ‘n glimlag. Dis die mooiste glimlag.

Ek wou nog wonder hoe die vrou die regkry om met haar oë te glimlag sonder om haar mond te trek, toe gebeur die mooiste ding wat ek nog ooit in my lewe gesien het.

 

Sy staan op, vat die sambreel in die middel vas en stap uit. En voordat die kelner die koppie kon wegvat, vlieg daar ‘n spierwit skoenlapper by die koppie uit. Hy klap sy vlerkies vinnig, draai om die man met die denim aan, vlieg oor die koffie masjien, maak ‘n draai tot teen die dak en toe vlieg hy na my toe.

 

Hy kom sit op my hand en fladder sy vlerkies stadig op en af en staan op sy fyn pootjies wat amper soos die vrou se stillettos lyk.

Dis die mooiste skoonste wit. Ek verkyk my aan hom. Dis beeldskoon. Hy vlieg van my hand af en gaan sit op die stukkie papier waarop ek my telefoon nommer vir die kelner met die denim aan wou skryf.

 

 

Ek tel die potlood op en skryf ‘n sin op ‘n stukkie papier. Die skoenlapper vlieg op, draai om my kop en mik om op my skouer te kom sit, maar net voordat hy sit, vlieg hy by die deur uit na die vrugte winkel toe en gaan sit op ‘n druiwekorrel.

 

Ek lees die sin wat ek geskryf het.

 

“Jy is soveel meer as wat jy DINK jy is” staan op die papier.

 

Ek lees dit weer, hierdie keer met ‘n fluisterstem sodat ek my eie woorde kan hoor, en kyk by die venster uit en in die motreën staan die vrou, kyk na my, lig haar hand en waai vir my.

 

Ek waai terug, die man in die denim glimlag vir my en ek stap by die diner uit, reguit vrugte winkel toe om vir my ‘n trossie druiwe te koop.

 

Toe ek die eerste korreltjie in my mond sit en ek byt hom oop sodat ek die soet van die druif kan proe, weet ek dat ek eintlik bedoel is vir baie groter dinge as net sommer dit…

 

Advertisements

One thought on “DIE DINER

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: