HUISKONSERT IN HEIDESTRAAT

DIE HUISKONSERT

 

By die hoekhuis in Heidestraat hoor’n mens  stemme en meubels wat skuif. ‘n Opgewekte klank.

Die wilgerboom gooi ‘n lang skadu oor die vensters van die sitkamer om die ergste warmte van die middagson uit te hou.

Trek en stoot, vashaak, stoot en trek word ‘n lazyboy by die deur uitgedra.  Tot die bank met die houtpote en blomkussings word na ‘n ander hoek getrek.  Die koffietafel word uitgedra en gaan staan maak op die stoep.  Die ding is net oorbodig.  Hy maak die plek onnodig vol.  Hy moet plek maak vir nog ‘n lyf.

Dis volmaan-aand en die maan lyk donsig tussin die takke van die slap wilgerboom en meteens kry die donker lewe, die slap takke praat ‘n taal wat net hulle verstaan en iewers breek ‘n takkie af met ‘n string grasgroen blare daaraan.

Die vrou met die wye rok wat tot op die grond sleep bind die klossie groen blare om haar kop vas. Dis so mooi. Die ander man wat agter haar stap pluk ‘n geel blommetjie en druk dit in haar hare, so tussen die klossies groet blaartjies.

“My blomtuin” sệ hy vir haar.

Hulle loop hand aan hand.  Hy dra ‘n paar boeke in sy linkerhand en sy ‘n handsak van die mooiste bontlap.

Langs hulle is nog ‘n paar mense, agter hulle staan ‘n paartjie teen die ou Escort se bonnet en soen ‘n laaste soen voordat hulle nader staan.

Heidestraat word lewend, want dis Vrydagaand.

Presies om agt uur is die sitkamer vol mense.  Mense wat lag, praat en sommige wat net sit en luister.

‘n Man met ‘n wilde snor sit ingedagte en druk sy duim in sy pyp om die tabak net so bietjie stywer vas te kry sodat die pyp kan lekker kool.

Die mense se stemme maak die vertrek vrolik, die fyn-pienk-roos-muurpapier kleur die plek in en die groot-blom-motief-gordyne maak almal se harte mooi bont.

In die hoekie staan ‘n paar hout tamatie kassies teenmekaar gepak en hier en daar ‘n bier-krat om hom stewig te maak.  ‘n Tafel met die mooiste kerse en ‘n glaspotjie met blomme in staan langs die ou mikrofoon en teen die muur rus ‘n kitaar.  Die tamatiekissies is pikswart geverf en die flits wat aan die dak vasgemaak is maak ‘n helder lig op die swart kissies.  Dis net die woorde, LION LAGER, wat mens so tussen die kissies deur kan sien.

Die vertrek ruik na sigaret rook, na Springbok tabak en kromsteelpyp wat met die soet blomreuk parfuum van die vrouens meng.

Die ouer mense drink sjerrie, die man met die bruin krimpilene broek ruik na Old Spice en nog iemand ruik na Charlie parfuum. ‘n Soet reuk.

Meteens gaan die ligte van die sitkamer af en al wat mens kan sien is die flitliggie wat sy kol op die tamatiekis verhoog gooi en ‘n man met die mooiste stem lees ‘n gedig voor.

Toe hy klaar is klap die mense hande en vra of hy dit nie net weer een keer kan lees nie.  Hy skink ‘n glasie water, trek aan sy sigaret en lees dit weer.  Die vrou met die wye rok en wilgerblare in haar hare gaan staan langs home n speel op die kitaar.

Gert stop sy pyp.

Bees Belofte gooi nog ‘n brannewyntjie.

Karel van Kalklaagte hou sy bruid se hand vas en hulle glimlag vir mekaar.

Die donsige maan loer ook deur die venster in.

 

En daar in die sitkamer met die mooiste muurpapier en blomgordyne hou ons huiskonsert.  Die woorde gaan sit in die mure en klim by elke een se hart in, want ons is almal hier saam.

“Nooi volgende keer nog mense” sệ die man wat die gedig voorgelees het.

“Want ons woorde moet in harte ook kruip.  Kom lệ jou kop hier op my skouer, dan luister ons na die gedig wat die vrou met die kaal voete vir ons lees.”

 

Toe klap ons hande. Die muurpapier klap hande, die Springbok tabak klap hande en die brannewyn klap ook saam.  Die maan klap. Die vrou wat na Charlie ruik klap en die man wat se Old Spice –reuk tot anderkant die pad trek, klap ook saam.

Ons almal is nou saam.  Ons almal is mos maar bont.

 

 

 

Soms moet ons net die selfone, tablette en goeters by die deur uitdra en op die stoep gaan staan maak, want dis oorbodig, ons moet plek maar vir meer lywe..

Soms moet ons die sigarette wat met batterye werk op die stoep gaan staan maak, want dis onnodige, sodat ons weer na pyp en tabak kan ruik. Ons moet weer bont word.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Start a Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: