HESSIE EN DIE BEDNATMAAK

Hessie en die bednatmaak.

My mens, ek praat nie juis oor ander mense se kwale nie.

Ek sê maar altyd ’n mens se kwaal is jou eie persoonlike ding en het niks met ander te doene nie.

Maar so op ’n dag hoor ek ’n gedoente in die straat. Iets wat net soos ’n fiets-klokkie klink en iemand wat “ANTIE ANTIE” skreeu.

Maar wie sal dan nou met ’n fiets by my voorhek kom staan en onmoontlik wees? vra ek myself verwondered af. So op ’n lekker stil Vrydag agtermiddag.

Julle sal my nie glo nie. Daar by my tuinhekkie staan die posman met sy bak-bene wyd oor die fiets (ek maak maar of ek nie die wye bene sien nie). Daardie bak-bene het al so baie moeilikheid onder die skoner geslag in die dorp veroorsaak. As iemand iets te sê het oor die twee bene wat lyk soos ‘n trein wat oor spore loop laat hy net ewe onskuldig val: “Ek kan hulle nie bymekaar kry nie …” en dan ‘n lang betekenisvolle pouse … “seker maar van al die fietsry.” Nou ek het al heelparty mans teëgekom wat baie fietsry en hulle bene loop nie so wyd wyd nie. In alle geval – as die dorp ’n nuwe noointjie kry of ’n meisie lyk net effens alleen sal hy altyd sê “Ek is ’n man wat 6 voet hoog staan, jy sal nie sommer weer so iemand hier rond kry nie”
Tot die dag toe hy homself met die Meyer meisiekind styfloop, want die kyk hom toe so op en af en sê “Ja, as jy nie so krombeen geloop het nie, was jy seker 6 voet lank, maar daai krom bene maak jou maar so by die 5 voet” en sy stap weg. “En daai voetjies is hoeka te klein” gooi sy oor haar skouer met die wegloop.
Die stomme posman was so in die gesig gevat en vir weke kon hy nie pos aflewer nie. Toe het hy en die einste Meyer kind mekaar een aand op ‘n dans raakgeloop en die volgende dag was die bak bene weer oor die fiets , af met die straat en oral waar jy kyk.
Maar nou dwaal ek en die posman se wyd lopery het niks met my te make nie.

Soos ek gesê het: Daar staan die krom-been-posman voor my hekkie met ’n brief in die hand.

Dit laat my toe skoon special voel. ‘n Brief, in ’n regte koevert met my naam daarop en nogal ’n mevrou voor my naam. En dit afgelewer voor my hek. Dit moet ’n dringende saak die wees.

Ek hou die koevert eers so sonop, dalk kan ek deursien, maar dit lyk soos ‘n bladsy wat iemand uit ‘n skoolboek geskeur het. Toe gaan maak ek maar ‘n koppie tee, kry my leesbril en gaan sit in die laaste sonnetjie op die stoep.
Toe ek daardie brief oopaak en lees, skrik ek myself amper binne in ‘n ander geloof in.
Dis van iemand wat in die buurdorp bly. Die vrou het van my te hore gekom en die sit met ’n geweldige probleem met haar oudste seun van 12 jaar oud. Ek roep die oom nader om te vertel. Hy het maar net iets gebrom van die byderwetse kinders wat ‘n goeie pak slae moet kry. Dit sou natuurlik nie die problem oplos nie.

Ek skryf toe terug en stem in dat hulle my kan kom haal en dat ek na die kind sal kom kyk. Hoekom ek nou juis daarheen moes gaan, weet ek tot vandag toe nie. Dit het net onnodige bang vir die donker in my kom sit.

‘n Paar dae later kom die mense by my huis aan om my op te laai. Eenvoudige goedgelowige siele wat maar gewoond is aan die platteland en nie veel blootstelling aan enige iets buite hulle wêreld kry nie. Die man praat nie ‘n dooie word nie en die vrou stamel en stotter haar pad deur die sinne. Die kar lyk asof hy ook maar net met genade aanmekaar gehou word en toe die man hom opstart om die pad te vat gee dit ‘n gebrul en ratel af wat klink of die 11de plaag op ons is. Die oom wou nog keer dat ek inklim, maar die twee het so desperaat gelyk en ek was so bietjie nuuskierig so ek oortuig toe die oom dat alles reg sal uitwerk en ons ry na die buurdorp toe wat, ek skat, so 45 minute weg is.

Daar aangekom kyk ek die kind van kop tot tone en ek kan nie glo dat so ’n mooi, gesonde jong man so ’n probleem kan hê nie. Bednatmaak. Onverstaanbaar.

Ek sê toe vir die mense, ja, ek sal kan help, “Is hier ’n ashoop iewers in die dorp.”
Die vrou skrik vir haarself spierwit. “Nee, mevrou, ek wil nie die kind loop weggooi nie”. Soos ek gesê het: eenvoudige siele. Ek vat haar hand – kyk diep in die oë wat lyk asof hulle ‘n spook gesien het: “Vat my net.” Terug in die skedonk en daar gaan ons asgat toe. Ek bid maar net die hele tyd dat die kar ons nie daar in die steek gaan laat nie. ‘n Kort nagmerrierit later kom ons by die asgat met ‘n bol rook wat om die kar hang wat enige stoomtrein sal laat jaloers raak.

Doppiesdorp noem hulle die plek. Die asgatgrouers kyk my skeef aan, maar ek steur my min – die vrou en haar man bly maar naby die kar asof hulle nou met die ding sal kan wegjaag as daar iets verkeerd gaan.

Ek grou toe daar tussen die geroeste blikke, wilde bossies en gemors deur en kry wat ek soek, pluk ’n paar blare van ’n brandnetel af, en gaan weer terug.

By die huis aangekom sê ek vir die vrou om solank die ketel te kook, want hierdie brandnetels se blare moet getrek word soos wat jy tee sal trek.

Ek jaag die kind to ’n koppie of twee in. Die res lose k by haar vir die volgende dosis – hy moet ten minste ‘n week lank elke aand daarvan drink.

Toe gebeur die vreesliktse ding. Toe hulle my moet terugvat huistoe, wil die kar nie vat nie. Die man karring tot hy by sy elmboë vol olie is, maar die ding is so dood soos ‘n mossie. Ek sou daar moes oornag want hulle kon eers die volgende dag die kar weer reg kry.

Ek kry mos swaar om in ’n vreemde bed te lê en so staan ek toe so 11 uur se kant op en gaan sit op die stoep. Toe ek so deur die stoep se venster kyk, terug huisin, sien ek ’n ding. Daar in die kombuis staan ’n wit gedaante en gloei in ’n helder lig. Dis asof die lewe uit my uit vloei. Ek is skoon lam van skrik.

Ek wou nog ’n versie van die Psalmdigter opsê toe ek sien dat dit sowaar die bednatmaak-kind is wat voor die yskas staan. Sy mond kompleet getrek soos die tuit van ’n melkbertjie en daar staan hy en drink skelm melk in die middel van die nag. Ek gaan nader en toe ek amper by hom is draai hy om en loop terug kamer toe. Eers kan ek nie mooi uitmaak nie, maar toe sien ek die uitdrukking in sy oë wat vir niks kyk nie. Die kind is vas aan die slaap.

Die volgende oggend verneem ek of die bednatmaak opgehou het. Die ma sê toe moedeloos dat sy alweer ’n plassie op die matras gekry het. Ek glimlag toe maar vir die ma en vertel haar van die skelm melkdrinkery soos ‘n lam aan sy ma en die slaaplopery. Hy drink soos ‘n kalf wat aan ‘n koei suip – daar is een of ander ding in sy kop wat nie lekker werk nie. Ek gaan haal die dink en onthou iewers diep uit my gedagtes maar sowaar kan ek nie aan ’n boereraat dink vir ’n kind wat nog aan sy ma wil drink nie. Al ding wat in my gedagtes kan kom is wanneer die oom op die plaas sukkel om die kallers gespeen te kry van die koei af, dan sit hy so ’n ding aan hulle se snoete met twee hakke wat soos daardie wag-’n-bietjie-bos-dorings lyk. As die kalf dan aan sy mal wil suip, gaffel hierdie hakke die stomme koei totdat sy ’n kraam-agtige-bulk los. Nee mens, ek kan mos nie so ding aan die stomme kind se neus sit nie. Die arme ou vrou?….en ek lag.

Terwyl hulle die skedonk met die hulp van die buurman weer aan die gang probeer kry maak ek ‘n mengsel van knoffelmelk. Sien, jy vat ’n huisie knoffel, maak dit lekker fyn en dan gooi jy dit in melk, so warm as moontlik. drink so glasie voor slaaptyd. Jy slaap asof jy klaas vakie homself is.Het dit nou ‘n gesukkel afgegee om die vrou te laat verstaan dat die brandnetelaftreksel nie meer nodig is nie, maar dat sy die knoffelmelk vir hom moet gee voor slapenstyd.

Ek stel ook voor dat hulle dalk die seun by die dominee moet kry – praat sal ook al help aangesien sy pa tien teen een nog nooit ‘n dooie word vir hom gesê het nie.

Die skedonk het hulle nooit aan die gang gekry nie – die oom het my teen laatmiddag opgespoor en ons is huis toe.

Vir die eerste nag of twee het ek kort kort wakker geskrik van droom oor die spookbeeld wat ek in die kombuis sien staan het. Later het ek maar ook van die knoffelmelk gedrink om die bose geeste uit my kop te kry.

So twee, nee drie weke later hoor ek dat die kind heeltemal opgehou het om bed nat te maak. Ek weet tot nou nie of dit die knoffelmelk, brandnetelaftreksel is nie en of die ma die yskas begin toesluit het in die nag nie. Of dalk het sy pa net met hom gepraat … ek hoop maar net hulle het nie met hom gemaak soos die boere met die lammers {kalwers} maak nie. Dit sou darem te wreed wees.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: