KOPREIS (19) Die dag toe die see rooi geword het.

Dit is seker lank na middernag.  Ek gee nie juis om nie.

Dis stil en donker in die dorp. Ek gee ook nie om nie.

My lyf het drie dae laas uit die bed geklim. Ek gee nie om nie.

Ek is lam.

Ek kan nie slaap nie.

Ek wens date k ‘n slaappil het.

Ek wens vir die motorfietsman.

Ek wens vir nog ‘n engel.

Ek wens vir gesond word.

GESOND?

Ek het dik wolkomberse voor die vensters gehang sodat niemand kan inkyk nie en ek nie die vlakte of die see kan sien nie. Ek wil nie meer sien nie.

Meteens verskyn daar ‘n baie skerp lig deur die dik komberse wat as gordyn dien. Ek vat die los mat en hang hom ook voor die venster om die lig uit te hou.  Dis lank na middernag maar dis onmoontlik dat die son nou kan opkom.

Die lig kom nogsteeds deur die mat.

Ek hoor die mooiste stem buite kant praat.

“Bring vir die harlekyn nog wyn rooi wyn vir sy lag en trane en pyn want hy wys ons die nuwe wind wat waai van die vaal tot onder in saldanhabaai bring vir die harlekyn nog wyn rooi wyn vir sy lag en trane en pyn want hy wys ons die nuwe wind wat waai van die vaal tot onder in saldanhabaai sirkus mense is in die dorp groot tent verrys en die narre staan daar rond helder kleur vragmotors kom en gaan manne op die stokke en waens wat eenkant staan bring vir die harlekyn nog wyn rooi wyn vir sy lag en trane en pyn want hy wys ons die nuwe wind wat waai van die vaal tot onder in saldanhabaai sirkus meester knik sy kop betree dan die arena en sit sy swart hoed op blaas eers op sy fluitjie afrigter lig sy stok seilgordyne gly oop en die leeus kom uit hul hok hoogtou akrobate die mense slaak n sug dwarsoor met eenwiel fietse dan keer hul weer terug en eenkant in die donker weggesteek voel ek klein want niks is ooit so hartseer soos die traan van die harlekyn bring vir die harlekyn nog wyn rooi wyn vir sy lag en trane en pyn want hy wys ons die nuwe wind wat waai van die vaal tot onder in saldanhabaai bring vir die harlekyn nog wyn rooi wyn vir sy lag en trane en pyn want hy wys ons die nuwe wind wat waai van die vaal tot onder in saldanhabaai.

Dis so mooi

Ek trek die mat en die kombers op ‘n klein skrefie oop en daar, voor my venster, is duisende vuurvliegies.  Hulle bring lig vir MY. Langs die groot, ronde, vuurvliegielig staan die motorfietsman en praat die Harlekyn gedig, nie sing nie, maar praat.

Om ‘n liedjie te praat klink heeltemal anders as om dit te sing.  Dis hartseer.

Ek stap buite toe, op die skulppaadjie wat nie meer kris kris kras kras nie, want die skulpe is teen hierdie tyd almal al fyn getrap.

Ek stap verby die wasgoedlyn waar die voeltjie altyd sign.

Verby die spekbos en die skilpad.

Klim op my dak, vryf die engelskulp blink.

Dan kyk ek af na die vuurvliegies en die motorfiets man se Harlekyn.  Ek gaan sit op die kant van die huis se dak sodat my bene slap afhang.  Ek speel met die string skulpies deur my tone.

Die motorfiets man sệ ek moet afspring, tot in sy arms.

Ek spring.

Ek tuimel, val, af en af.

Kan die dak so hoog wees?

“Nee, jy val net ‘n lang ruk in my arms.  Ek sal jou vashou, val nog totdat jy klaar geval het. En as jy klaar geval het, sal ek jou nogsteeds vashou en toe vou.  Val maar, my geliefde mens, val maar rustig”

Ek val nog vir ‘n lang ruk. Hou net nog ‘n bietjie uit sodat ek nog vir ‘n rukkie kan val, deur jou arms, deur jou oe, deur jou hande, deur jou bors, deur jou rug, deur jou bene en voete, tot binne in jou skoene.

Toe ek die laaste val val tot in die Motorfiets man se skoene, buk hy af, tel my op en hou my vas. Die vuurvliegies maak ‘n groot sirkel om ons en klap hande. Hoe meer hulle hande klap, hoe helderder word hulle liggies.

Toe die son goud maak op die horison, verdwyn die vliegies en Motorfietsman vat my  hande in syne vas en sệ dis tyd om die flesse leeg te maak. Dis tyd om die rooi boksie onder die bed uit te haal. Dis tyd om op te staan.

Ek wil nie.

“Gaan haal daardie flesse, ons moet die klippies in die see gaan gooi.  Hulle kan nie vir altyd in die fles lệ nie” sệ hy.

Ek wil nie.

“jy moet”

Kan ek nie die klippies een vir een, elke dag vir dag, uithaal en dit dan see toe vat nie?

“Ja”

Dankie.

“Hoeveel dae gaan dit vat as elke klippie ‘n dag is?’ vra hy

Dit gaan eenduisend-en-tagtig-dae vat. Dis drie jaar se stap.

“en eenkant in die donker weggesteek voel ek klein want niks is ooit so hartseer soos die traan van die harlekyn.”

 

Die woorde dwaal in my kop. Oor en oor en oor.

Ek sal more met die 3 jaar terugstap begin.

“Jy is braaf” sệ Motorfietsman.

Ek is alleen, sệ ek.

Dag in en dag uit. Klippie see toe, klippie uit die fles, klippie see toe, klippe uit die fles.

Ek wil nie hệ dat die dae moet verby gaan nie.

Ek wil vir altyd op een dag bly sit.

Dis nag. Dis dag. Dis Saterdag, Dis Sondag.

Ek het die rooi boksie onder my bed gaan uithaal en dit oopgemaak. Ek is nie heeltemal seker hoe die telefoon werk nie. Ek probeer hom aanmekaar sit.  Ek druk die battery in sy plek. Ek skakel hom aan. En daar knipoog die groot monster vir my. Die monster van tyd, die monster van tegnologie , die monster van haat, die monster van liefde, die monster van knoppies en die monster van NIKS wees nie.

Die oog van die telefoon lyk amper soos die klomp vuurvliegies, maar net aakliger. Dis vieslik.

Ek het die telefoon af gesit, die battery uitgehaal, hom weer in sy plastieksakkie gedruk en in die boksie gesit. Ek het die boksie met ‘n sterk toe vasgemaak.  Later deur die dag, maak ek die boksie weer oop en sit hom in die vensterbank, langs die flesse.

Die dae gaan verby en soos ek die klippies uit die flesse haal, sit ek elke klippie in die telefoon boksie totdat die boksie vol en swaar is.

Daardie een oggend word ek wakker en ek hoor ‘n man se stem oor ‘n luidspreker.  Dis nie motorfiets man nie. Ek het in elk geval gewoond geraak aan die feit dat Motorfietsman verdwyn en dan weer verskyn. Dit pla my nie. Ek hoor mense ‘n loflied sing. Weer die luidspreker, dan ‘n kitaar, dan weer loflied. Dis kerk. Dit moet Sondag wees.

Ek staan op, gaan haal nog ‘n klippie uit die fles en druk hom in die telefoon boksie. Die boksie is nou al baie swaar en vol. Ek dink nie daar kan nog ‘n klippie ingaan nie.

Ek hoor die luidspreker-man sệ: “Alle homoseksuele mans moet met klippe doodgegooi word asook enige iemand wat saam met so’n mens by ‘n tafel sit en eet”

God weet.

Die Here weet?

Jesus, help my.

Motorfietsman, hou my vas.

Ousus bid vir my.

Ek vat die telefoonboksie, sit dit in die visnet, klim op my dak en haal een van my engelskulpe af, vryf hom blink en sit hom in my broeksak.

Ek klim van die dak af, stap agter die klank van die luidspreker aan.

Toe ek by die stem kom, staan hy daar op ‘n podium en klomp mense sit hande teen mekaar in gebed.

Ek sệ, verskoon my, ek het vir jou ‘n engel gebring.

Ek sit toe ‘n engel by sy voete neer.

Nog ‘n engel op die klavier.

Nog ‘n engel op die luidspreker.

Nog ‘n engel by ‘n gemeentelid se voete.

Nog ‘n engel by die kerkdeur.

Nog ‘n engel by die sydeur en nog ‘n engel in die prediker se hart.

Ek stap uit, reguit see toe. Ek haal die telefoonboksie uit die visnet, gooi hom in die diep see en daar sink die boks, dieper en dieper en dieper omdat hy swaar is van die klippies.

Hy val en val en val…net soos daai een dag toe ek van die dak afgespring het en in die motorfiets man se arms….Val…val…val..

Val, valler, valste…en toe gaan die see in rooi gety.

(lees die stuk versigtig.  Bring die val, valler, valste na die prediker toe, sit dit bymekaar en kyk wat gebeur)

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Start a Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: