KOPREISE (18) Ek bou ‘n hek vir my hart…

skulphuis

(Die kluisenaar-lewe is besig om sy tol te eis. Moet ek hulp kry? Moet ek nog alleen bly?)

Ek het klomp skulpies gaan optel en dit in ‘n ou visnet gegooi.

Alleen.

Ek het dit in lang stringe geruig.

Alleen.

Ek het nog ‘n engel-skulp op my huis se dak gaan sit.

Ek het gebid vir ‘n skulp by my hek.

Alleen.

Ek moet ‘n klein, wit, hekkie opsit.  Ek weet dit gaan snaaks lyk.  ‘n Groot oop erf met net ‘n wit hekkie.  Dan kan ek deur die hekkie stap, in en uit.

Hoekom sal ek dit wil doen?

Want ‘n mens moet ‘n hek he.

Vir wat?

Vir in en uit.

Ek sal die hekkie vandag bou.  Dalk moet ek na Ousus se huis toe loop om te hoor waar sy is. Ek het haar lank laas gesien.  Ek het growwe klippies in die bottel gegooi wat sệ dat dit die dae is wanneer Ousus nie by my was nie.

As die son bokant my huis se dak hang en die son raak-raak aan die sitkamer bank se rugleuning, dan weet ek dis omtrent drie uur.  Dis ‘n goeie tyd om met die hekkie te begin.

Ek stap om die huis om te sien of die Motorfiets al terug is.  Hy het gister verdwyn.  Niks gesệ nie. Net weg.

Ek is bekommerd.

Maar vandag gaan ek nie skryf oor ‘n motorfiets of die engel op hom nie. Ek gaan dit vergeet en die dink in ‘n hekkie inkap.

Ek stap die boonste stofpad af, verby die winkel.  Daar staan ‘n motorfiets voor die deure.  Ek stop en maak my oe skrefies.  Ek onthou weer die ding van “kyk verby die figuur in die donker, dan sal jy sien wie dit is” maar daai storie werk nie in die dag nie.

Ek draai om, stap terug huistoe.  Ek gryp die visnet en stap weer stofpad af.  Die motorfiets is nou weg. Dank God.

My alleen het my maat geword.

My kopreise het my geselskap geword.

My dinkreise het my pad geword.

My eensaamheid het my regterhand geword.

Ek is nou een-alleen.

“Middag, kan ek jou help” vra die vrou agter die toonbank by die kafee.

Melk, gis en broodmeel, asseblief.

Ek wil nie meer ‘asseblief” sệ nie.

Sy gee dit, ek betaal.

Dankie.”

Ek wil nie meer Dankie sệ nie.

Ek stap met die pakkie inkopies by die kafee uit, stofpad af na Ousus se huis toe.  Die mense by die groot opmekaar-huis kyk my aan.  ‘n Vrou wys na my kant toe. ‘n Man lag.  Die vrou kyk weer oor haar skouer, druk haar hande in haar sye, sệ iets en die man lag.

Fokof.

Ek stap aan.

Ek sit die pakkie inkopies in die visnet.

Ek stap verby die kerkie, verby ‘n erf waar ‘n groot hond blaf. Ek stop, kyk vir die hond en glimlag.

Hallo Hond

Hallo Engel, sệ die hond.

Ek het ‘n engel geword, en ek kyk die hond stip in die oe.

“Ek weet” sệ die hond

Engele het vlerke.

“Jy moet vlieg, Engel. Ek weet alles. Ek weet van die engel op jou dak. Ek weet ook wie vir jou vlerke gegee het. ‘n Vreemdeling op ‘n motorfiets” sệ die hond.

Ek skrik en stap verder.

By die kerk hoor ek iemand sing. Dit moet ‘n begrafnislied wees.  Is dit Sondag?  Is iemand dood.

Ek loer by die sydeur in.  Daar staan ‘n bruin vrou en sing.  Vinger alleen in die kerk.  Dis so mooi.

Is iemand dood? Vra ek.

“Ja” sệ die vrou

Ek is jammer. Wie?

“Ek is dood” sệ die vrou.

Ek is jammer.

“Hou aan loop voordat jy ook doodgaan” sệ sy en sing weer.

Ek maak die sydeur vinnig toe en stap uit.

Toe ek verby die groot saal wat se mure aan die grond gedeeltes al beginner afdop, stap, hoor ek klomp vroue praat. Dit klink mooi.

Ek stap verby die alwyne, om ‘n klossie wit magtrietjies en trap skuins verby ‘n paar vetplantjies.  Ek loer by die deur in.

Een vrou skil pampoen.

Sy het die groot mes in ‘n greep beet en met die ander hand hou sy die pampoen vas. Sy skil, rol, trek af, skil, rol trek af…skil weer, gooi ‘n skil in die asblik, snuif en vryf oor haar neus en toe sien sy my.

“Jy moet more kom kos kry. Ons skil vir die sopkombuis. Almal is welkom” sệ sy.

Dankie, ek sal.

“Bring net jou eie bakkie. En jy mag net een keer vat”

Dankie.

“Kom vat hierdie pampoenpitte vir jou. Jy kan dit plant”

Dankie.

Ek druk die pitte in my sak en stap verder na Ousus se huis toe.

Ek klop aan haar deur.

Sy sit en lees Bybel.

“Boerkind, kom in. Ek het tee gemaak.  Kom sit by my”

Ek het jou verlang.

“Ja, Boerkind, ek vir jou ook.”

Hoekom het jy weggebly?

“Ek het my eie dink gedink”

Dis goed. Ek dink altyd my eie dink.

“Te veel dink kan jou in ‘n sloot gooi”

Ek is al deur daai sloot, uitgeklim, weer ingeval en weer uitgeklim.

“Jy moet nou glo, Boerkind.”

Waaraan?

“Glo aan iets. “

Ek glo aan engele.

“Ek kan sien dat jy ‘n paar vlerke gekry het”

My vlerke is papierdun.

“Maak hulle sterk. Drink jou tee, dit word koud.”

Ek drink rooibostee.

Ek kyk vir Ousus.

Ek is lief vir haar.

Is daar iets soos liefde, Ousus.

“Ja, daar is. Net jy alleen is liefde.”

Ek verstaan nie.

“Wat maak jy met die visnet”

Ek gaan engele vang.

“Bring vir my ook een”

Ek sal.

Ek stap af see toe.  Die son hang weer slapgat oor die see.  Dis dae soos hierdie wat die son slapgat hang, dat ek nie eens begeerte het om see toe toe stap nie.

Ek stap om die duin, af in die lossand tot onder waar die sand koud, nat en hard is.

“Waar is jou vriend?” vra Dingetjie.

Ek weet nie.

“Jy moet hom gaan soek”

Nee. Ek kom tel ‘n engel op om vir Ousus te vat.

“Ek sal die mooiste engel vir jou gee om vir haar te vat.”

Dankie, Dingetjie.

Dis klein brandertjies wat in en uit rol.  Laagwater branders. Lui branders. Slapgat branders, net soos die son.

Ek voel iets hard teen my voete.

‘n Skulp.

Die mooiste skulp wat ek nog gesien het.

Ek tel hom op en gooi hom in die visnet.

Ek voel nog ‘n ding teen my voete.

Nog ‘n skulp. En nog een en nog een, totdat die visnet vol is met die mooiste skulpe in die wệreld.

Ek kyk om toe iemand ager my lag.

“Hallo Engel”

Waar was jy?

“Op die maan” sệ die motorfiets man.

Dis koud hier.

“Kom staan hier by my. Kom kruip hier in my jas. Dis ‘n woljas.  Jy sal warm word”

Ek kruip tot teen sy lyf en hy vou my toe in sy jas.

Dis nou warm.

Ek sit die sak vol skulpe langs my neer.

Hy haal ‘n paar skulpe uit, ryg dit in ‘n toutjie, knoop dit vas, ryg weer, knoop vas, skud die sand af, ryg weer.  Hy sệ ek moet my oe toemaak.

Ek maak my oe toe.

Toe ek my oe oopmaak, het hy die mooiste hangertjie vir my gemaak wat om my nek hang.

“Nou het jy klomp engele om jou nek”

Dankie. Baie dankie.

“Jy moet ‘n paar engele vir daai vrou wat in die kerk gesing het ook gaan gee.” Sệ hy.

Ons staan op, tel die net met die skulpe op, druk my sakkie inkopies onder my arm vas en stap kerk toe.

Daar haal ek ‘n paar skulpies uit, sit dit voor die sydeur neer, nog een vir die voordeur en nog een vir die dak.

“Gooi hom sommer op die dak.” Sệ die motorfietsman

Ek gooi die skulpe tot bo op die dak.

Kaplaks.

En daar gaan die kerk se ligte aan, ‘n groot engel kniel by die deur, nog ‘n engel by die sydeur en die motorfietsman fluister…”Ek het jou lief”

Bestaan liefde? Vra ek vir die tweede keer vandag.

“Ja, liefde is net jy”.

Daardie dag het ek ‘n wit tuinhekkie gebou wat ek voor my hart staan gemaak het.  ‘n Hekkie wat my hart moet beskerm.

(soms moet ons maar vir ander mense engele gaan optel en voor hulle deure gaan neersit.  Vir sommige mense moet mens ‘n engel gooi.  Vir ander moet jy net ‘n warm woljas aantrek waarin hulle kan rus. Dis al”

Advertisements

4 thoughts on “KOPREISE (18) Ek bou ‘n hek vir my hart…

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: