KOPREIS (14) Die groot lag…

 

Vandag is koud.

Baie koud.

Koud, kouer, koudste.

Ek wil nie vlakte toe gaan nie. Ek wil nie see toe gaan nie. Ek wil nie stap nie.  Ek wil sit.

Mense het altyd vir my gesệ dat ek nie so stil moet sit nie. Dit maak mens sleg.  Hoekom sal mens sleg word as jy sit? Mens is mos nie net sleg vir geen rede nie.  Bestaan daar iets soos slegte mense?  Wat is ‘n slegte mens? Wat is ‘n goeie mens? Wie maak die reels.

Ek weet nie.

Ek wil nie weet nie.

Ek stel nie belang nie.

Ek wil sit.

Die son het agter ‘n paar slegte-lui wolke uitgekruip.  Hy skyn op my skouers en rug. Dis lekker.  Die warmte kruip in my lyf in. net soos ‘n klein hondjie onder sy kombersies in sal kruip. Ja, die son is ‘n klein hondjie wat inkruip.  Hy kruip teen jou rug in, maar sodra daai koue, nat snoet jou raak, klim die koue weer uit.  Maar ‘n klam snoet is liefde. Dis baie liefde. Dis lek-liefde.

Die klein hondjie bak my warm…lekker warm…lekker.

Ek skrik toe Ousus agter my lag.

“Jy slaap so teen die son. Dis lekker.”

Hoekom lag jy daaroor?

“Laat my dink aan ‘n storie van jare gelede”

Watse storie?

“’n Storie”

Maar watse storie?

“Soebat jy dat ek moet vertel?”

Ja. Asseblief. Vandag is storie weer.

“Jy sien, jare gelede toe ek nog ‘n jong vrou was, het my pa die orrel in die ou kerk hier onder in die pad gespeel.  En kon hy ‘n orrel speel.  Hy het nooit opleiding gehad nie, sommer so uit die hart uit gespeel.  Maar soms was hy maar lui vir kerk toe gaan, want die Saterdagaand was daar mos ‘n ge-tiepery van die soetwyn.  Omdat daar nie nog iemand was wat kon orrel speel nie, moes hy elke Sondag kerk toe gaan.  As daar siekte of dood was, het Antie Files maar ingesit, maar die meeste van die tyd het my pa maar gespeel.

Hier was so jong meisietjie wat gesệ het dat sy kan speel, maar toe sy die dag Die Onse Vader moes begelei, stap die helfte van die mense uit. Hulle het gesệ die kind trek darm die lied so uit, so asof dit ‘n begrafnis lied is.  Bring vir Ou Apie terug.  So beland my pa weer op die bank voor die orrel.

Man, dit was so oor die groot dae toe daar een Saterdag aand goed gevat is.  My pa was nie skaam vir vat nie en soetwyn maak jou mos moeg die volgende dag. So was dit gewees. Sondag se kerk begin en my pa beginne goed te speel.  Die mense sing lekker. Tot die dominee vat die note vas.

Maar so begin die preek en my pa loop sit op die stoel langs die orrel.  Dis ‘n pure gemak stoel.  Die preek hou aan en aan en my pa so oge word al swaarder totdat hy nie meer kon nie, en daar sit hy visvangend agter in die kerk op die gemakstoel langs die ou orrel.

Dominee steur hom toe maar min aan my pa.  Hy het geweet die ou vat maar bietjie te veel. Veral nou oor die groot dae.

Met die slotsang, sệ dominee dat hulle die sangboekies op Lied 43 moet oopmaak. Daar staan die gemeente met oop boekies in die hande en geen geluid nie.  Hulle wag vir my pa om die inleiding te speel, maar dis tjoepstil.

Iemand kyk rond of ou Files daar is om maar in te sit, maar Files is nie daar nie.

So kyk Ou Wilkie wat in die diaken stoel sit om en sien my pa op sy stoel weg voor en slaap.  Daar is nie ‘n teken van wakker word nie.

Dominee sệ toe vir Diaken Wilkie om assblief tog maar vir Oom Apie wakker te maak. Die mense wil sing.

Daar staan die diaken op, stap agtertoe en vat my pa liggies aan die arm.  My pa skrik toe van die wakker word, gee ‘n growwe woord, maar toe hy daar wegval met Lied 34 is die mense stom.  Dis verkeerde wysie by verkeerde woorde en die gemeente probeer sing, maar elke een sing met ‘n ander wysie en ‘n ander woord.

Dominee stop die maar die gedoente met arms in die lug, sệ toe maar net ‘Liefde, vrede en barmhartigheid” en toe “amen” en daar verdaag die kerk.  Jinne, tot vandag praat die mense van my oorlede pa wat in die kerk aan die slaap geraak het.  Vandag lag ons oor die saak, maar daai jare was dit groot skande”

Ek lag.

Ek lag lekker.

Lag, lagger, lagste…nee dit is nie reg nie, maar ek maak sommer die woorde op…dis baie lag.

Dankie, my liewe Ousus.

“Vir wat”

Vir die lag.

Ousus lag saam.

Ek lag.

Ons kyk vir mekaar en lag…

“Ja, Boerkind, lag bring mense bymekaar”

Daai dag, op die stoep, met die warm sonnetjie en die kerkstorie het ek Ousus se ‘Boerkind’ geword.  Nie net ‘n ‘kind’ nie , maar ‘n ekstra kind.

Wanneer laas het ek gelag?

Wanneer laas ?….

Advertisements

5 thoughts on “KOPREIS (14) Die groot lag…

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: