KOPREIS (11) Dingetjie en die Wind.

Branders rol in.

Branders rol uit

Branders rol in

Branders rol uit.

Twee tree vorentoe.  Draai om, en ek probeer die twee tree terug stap in dieselfde voeteval.

Dit werk nie. Dit voel nie reg nie.  Die ritme is anders. Vorentoe stap is anders as agtertoe stap.

Asem in…Asem uit…kyk vir die see.

Die son hang al lui op die horison. Die see lyk blou-silwer.  Meer silwer as blou.  Die mislagie oor die see is soos ‘n bruid wat deur haal wyl kyk.  Die paar wolkies hang soos lang stukke wol in rye. Gewoonlik moet wolke in bolle wees. Groot ronde bolle.  Maar hierdie wolke is wolslierte.  Ek het altyd as kind wolke groot, rond en vet geteken. Hierdie is ander wolke.  Met die bruids-wyl wat slap hang.  Dis ‘n mooi prentjie.

“Jy moet strand langs stap, tot anderkant die rotse daar om die draai” praat Dingetjie agter my.

Waar was jy al die tyd?

“Ek het jou maar dopgehou”

Hoekom?

“Ek het gesien hoe jy kyk”

Hoe kyk ek?

“Ver, diep en bang”

Ousus het gesệ ek moet die bang wegjaag.

“Ousus praat net”

Dit lieg jy.

Ek maak my stappas bietjie vinniger. Ek probeer vir Dingetjie wegloop.  Ek is moerig.

“Jy kan nie vir my wegloop nie”

Ek kan

“Jy moet oppas wat Ousus vir jou vertel”

Ek sal nie.

Vinniger. Stap, stap…draf…draf…

Asem in, uit…in…uit…ek draf op die strand sodat ek voor donker by die rotse kan wees en om vir Dingetjie weg te hardloop.

“Weet jy hoe is Ousus se man dood?”

Ek traak nie. Los my uit.

“Ek het hom doodgemaak”

Dingetjie, gaan weg. Bly stil.

Die sweet begin teen my voorkop drup.

Ek haat Dingetjie se stem.

Ek vat Dingetjie se woorde, maak ‘n gat in die sand, gooi dit daarin en maak die gat weer toe. ‘n Brander rol in, oor die toegegooide gat en maak die hopie sand plat. Dingetjie se stem is stil.  Dingetjie hoor nou haar eie stem in haar ore. Sy is uit my ore uit.

Die laaste stukkie son val in die see.

Dis skemer. Ek sit by die klippe en kyk na die ligtoring. Knipoog…knipoog…knipoog.

Dis amper soos “hier kiep kiep daar kiep kiep”

Ek sệ die rympie vir die ligtoring op.  En woerts innie hoekie…hier kiep kiep, daar kiep kiep… Die ligtoring lag vir my. Hy klap hande.

“Jy is siek. Daar is fout met jou”

Dingetjie, wat weet jy van siek.

“Ek weet.  Maak jou gedagtes stil…jy sal sien”

Rol in…rol uit…rol in…rol uit…

Nou maak die see net ‘n suis geluid.  Dis koud.  Ek het vergeet om ‘n trui te vat.  Ek sal vinnig moet terugstap, voor donker.  Mens weet nie wat alles op ‘n donker strand kan aangaan nie.  Dingetjie hou my dop…die see roep my en die ligtoring maak ‘n hier kiep kiep daar kiep kiep..

Ek stap terug.  Dit word stil.  Ek kyk na my kaal voete in die sand.  So in die stap kyk ek terug en sien my spore ver terug lệ.  ‘n Mens los maar altyd ‘n spoor iewers.  Al sệ jy niks wanneer jy tussen klomp mense is nie, jy los ‘n spoor.  ‘n Reuk, ‘n kyk of ‘n ding.

Watse ding?

Enige ding.  Jy los ‘n kyk of ‘n asem.  Die meeste mense los ‘n kyk.  Pasop hoe jy kyk. Mense gaan jou vir altyd onthou as jy verkeerd kyk. Mense kan jou in ‘n tronk toesluit as jy verkeerd kyk.  Kyk is ‘n ander ding.  Kyk verby mense.  Moet liewer nie in hulle oe kyk nie.  Kyk net skuins verby.  Soos wat ‘n mens vir ‘n donker figuur in die nag sal aankyk.  Mens kyk net skuins verby die donker figuur, dan sien jy beter wie of wat dit is.  Ek het al so skuins verby ‘n ding gekyk…toe sien ek agter die donker ding, nog ‘n donker ding. Ek kyk toe verby daardie donker ding en sien nog ‘n donker ding.  Kyk verby dinge sodat jy die pyn miskyk.

Wind, sal jy asseblief my pyn vir my dra, vra ek?

Wind, sal jy net liggies die pyn uit my hart uitwaai?

Wind, sal jy net my hand vat en vir my troos totdat die pyn uit my uitloop, soos ‘n fontein.

Wind, sal jy net asseblief die onthou-pyn uit my waai en in die see gaan sit. Soos wat ek Dingetjie se woorde in ‘n gaatjie gesit het en toegegooi het? Seblief?

Die wind kom liggies op.  Hy raak-raak net so aan my los hemp.  Hy blaas-blaas net so in my nek. Soos ‘n stoomengin wat enige oomblik wil spoed vang.  Woof..Woof…Woof…

En toe kry die Wind ‘n stem.

En die stem praat in my ore…”Weet jy wie is Dingetjie?”

Nee.

“kyk om jou”

Wind, my liewe wind. Waai my skoon. Waai my oop.

Cirrus_sky_panorama (2)

3 thoughts on “KOPREIS (11) Dingetjie en die Wind.

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Start a Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: