KOPREIS (10) Toe kom daar nog ‘n engel. Dank God.

Die wind het gaan lệ.

Wind, kom waai deur my. Wind, kom laai nog ‘n lag af. Wind, kom hou my styf vas. Wind, kan ek in jou arms lệ en wag vir agtermiddag.

Die wind is nou stil.

Wind, kom lệ asseblief in die waai van my arm.

Kom rus jou kop sag op my bors.

Wind, kom rus saggies by my.

Kom lệ jou asem op my lippe.

Kom maak my stil, soos jou

agtermiddag-asem voordat die

donker-demoon my kom haal.

My engel-wind.

My skulp-engel.

 

“Waaraan dink jy?”

Ek wil ophou dink.

“Dink is ‘n dwarrelwind”

Dink is gevaar.

“Dink is ‘n stormwind, hy ruk vir jou rond as jy nie oppas nie”

Ousus, hoekom dink ‘n mens?

“Dis Die Here se geheim”

Die stringe skulpies lệ soos wurms in die agtertuin.  Lang, wit slierte wat krul en lag.  Elke keer as ek stap om nog ‘n  skulp op te tel, trap ek ‘n paar skulpe plat.  Hulle lag saam.

Dan buk ek, grou met my vingers in die hope skulpe, soek die regte een, gooi dit in ‘n mandjie en stap terug na Ousus toe waar sy stringe tou rol sodat ons die skulpe kan inryg.

“Waar kom jy vandaan?”

Ek weet nie altyd nie, Ousus.  Waar kom jy vandaan.

“Van hier af”

Glo jy aan engele.

“Hoe kan ek nie glo nie?”

Ek vra net.

“Los eers die skulpe. Ons moet gaan knie. Die brood is op.  Ek het kerrievis gemaak.”

Ek druk my hande in my rug.  Trek my rug regop. Gooi my kop agteroor. Dan kant toe en dan weer anderkant toe.  Dan hang my kop vooroor.

“Skuif jy die dink in jou kop rond?” vra Ousus

Ek probeer die dink uitgooi.  Die dink maak my mal.  Die stemme hou net nooit op nie. Dis oor en oor en oor.  Dit hou net nooit op nie. En soms dink ek dieselfde sin oor en oor. So asof ek dit moet oefen voordat ek met iemand moet praat.

“Kom hier”

Ons stap om die huis.  Eers verby die wasgoedlyn waar sy my kussingslope van die lyn afhaal. Dan by die ronde bossies om die vadoeke af te haal.  Hulle moet gespoel word.  Die blouseep lệ nog dik aan die vlekke. Dan verby die spekbos.  Dan kyk ons see toe.

Kom, Kom. Kom. Kom.. hoor ek die stem.

Die see roep my. Die water sệ my naam. Wind, kan ek in die waai van jou arm lệ. Wind, kom vat net my hand. Hou my vas.

“Kind, moenie jou so vergaap nie. Kom, daar moet geknie word.  Dit word laat.”

Ousus gooi water in die ketel.

Meet meel af, sommer so met die oog. Ek tel…een, twee, drie.

“Brood wil nie getel word nie. Los die tellerry”

Sy gooi bietjie suiker in ‘n beker, dan die gis en dan louwater. Sy roer dit om en om sodat daar ‘n gaatjie in die middel van die vloeistof is. Soos ‘n stroom wat mens wil insuig.

Sy maak ‘n gaatjie in die meel.

“Kind, kom, vat die giswater en gooi stadig.”

Ek gooi stadig. Sy rol om en toe. Ek gooi stadig. Sy rol om en om. Haar hande oud. Haar vingers stadig maar versigtig. Haar ritme soos die see. Haar kyk na die deeg soos die vlakte vir die reen sal kyk. Haar platdruk en omknie soos die donderweer voor Blommetyd.

“Kind, kom vat die deeg en knie hom. Knie die dink uit jou kop uit”

Ek begin knie. Lomp, slordig, vinnig, sonder om asem te haal.

“Stadig, Kind. Stadig. So”

Sy vat my hande in hare vas. Druk haar lyf teen my rug en ons knie die deeg. Stadig, om, rustig, vrede, liefde, geduld, stilte, stadig, nog stadig.

“Knie liefde in die brood in. Knie geduld in die brood in. Knie respek in die brood in. Knie stilte in die brood in. Knie jou dink in die brood in”

Ek knie

“Knie hartseer in die brood in. Knie blydskap in die brood in”

Ek knie

“Nou, Kind, maak hom toe met ‘n plastieksakkie en sit hom in jou bed. Hy sal daar opreis. Gooi ‘n ekstra kombers oor.  Moenie hom pla nie.  Laat hy rus. Die rus sal in jou bed in trek en as jy saans gaan lệ, trek die rus in jou in. Laat hy rus”

Hy rus.

Ek rus.

Ons rus.

“Kind, kom sit hier.”

Ek sit.

“Jy moet elke dag ‘n brood bak, dit maak stemme stil. Ek het dit gedoen”

Hoe so?

“Toe my man oorlede is het ek brood gebak. Die harseer het in die deeg gegaan”

Ek sal my hartseer wegknie.

‘n uur later gaan loer ek na die deeg. Dis boep-maag-mooi.

Dit is soos ‘n boerman wat lekker kan eet. Soos ‘n boerseun wat hou van skaaprib en pap. Soos ‘n ou man wat pap en melk eet. Soos ‘n kind wat heuniing steel. Soos ‘n gebed.

“Kind, bring dat ons afknie”

Ousus vat die deeg, rol hom om, druk plat, trek oor, druk plat, sleep oor, druk plat.

“Kom knie af”

Ek knie af

Sy smeer ‘n pannetjie met vet, sit die deeg daarin, trek ‘n kruis oor die brood en sit dit in die oond. Dis mooi. Sy gaan sit op die houtstoel en bekyk haar hande wat vol deegstukke is.

Ek gaan hurk langs haar, en haal die deeg af. Stukkie vir stukkie.

Sy kyk vir my.

Ons sit in stilte. Alles is stil. My kop is ook stil. Ek tel nie meer nie.  Ek is stil.

Ek wil gaan stap.

“Nie te ver nie”

Goed.

Ek gaan haal my skoene in die kamer en kom sit op ‘n houtstoel in die kombuis.  Toe ek my regtervoet se skoenveter wou vasmaak, buk sy, maak die veter vas en sệ my voete sal nie op skerpioen en slang trap nie.

Dankie Ousus/

Ek stap by die voordeur uit. Trap dan versigtig op die skulppaadjie. Kris kras. Kris kras.  Ek tel ‘n skulpie op en hou hom met ‘n langarm na die son toe. Ek loer deur die gaatjie na die son. Dis seker nou so 4 uur se kant.

Ek stap verby die spekbos…

OUSUS! OUSUS! OUSUS! Skreeu ek.

Sy kom uit.

“Wat is dit kind?”

Kyk, God het ‘n skilpad vir ons gestuur.

“Pryssie. Prys God. Hy stap opdraend. As skilpad opdraen stap kom dit reen. Dankie god” sệ Ousus.

Ek is domverstom.

Nou het ek ‘n skilpad op my skulppaadjie. Dis so mooi. ‘n Engel op my engelpad. Orals is net engele.

Ek stap see-kant toe. Ek moet vir die see gaan dankie sệ. Ek moet gaan bid. Ek moet by die ligtoring gaan kniel…ek sal moet….

(Die storie volg more… Kopreis 11)

 

 

Advertisements

7 thoughts on “KOPREIS (10) Toe kom daar nog ‘n engel. Dank God.

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: