“Hallo, kan ek asseblief ‘n pakkie gis kry, die pers pakkie, ‘n 1 kg broodmeel en bruinsuiker?””Hallo, kan ek asseblief ‘n pakkie gis kry, die pers pakkie, ‘n 1 kg broodmeel en bruinsuiker?”Hallo, kan ek asseblief ‘n pakkie gis kry, die pers pakkie, ‘n 1 kg broodmeel en bruinsuiker?”
Oor en oor en oor en oor.
Blink, blinker, blinkste.
Doof, dower doofste.
Oor en oor.
Hoekom herhaal ek hierdie sin in my kop? dis maklik, gaan winkel toe, sê wat ek soek, betaal, vat en loop. Dis maklik”Hallo, kan ek asseblief ‘n pakkie gis kry, die pers pakkie, ‘n 1 kg broodmeel en bruinsuiker?””Hallo, kan ek asseblief ‘n pakkie gis kry, die pers pakkie, ‘n 1 kg broodmeel en bruinsuiker?”Hallo, kan ek asseblief ‘n pakkie gis kry, die pers pakkie, ‘n 1 kg broodmeel en bruinsuiker?”
Hou op…hou net op om in my kop te praat.
Ek stap buite toe om die son te lees. Dalk is dit een uur in die middag. Ek stap buit om die huis, na die muur wat see-kant toe wys. Ek klim op ‘n ou houtbankie, rek om by die geut by te kom en begin die skulpies tel wat ek gister ingeryg het.
een
twee
drie
vier…
“Hallo, kan ek asseblief ‘n pakkie gis kry, die pers pakkie, ‘n 1 kg broodmeel en bruinsuiker?””Hallo, kan ek asseblief ‘n pakkie gis kry, die pers pakkie, ‘n 1 kg broodmeel en bruinsuiker?”Hallo, kan ek asseblief ‘n pakkie gis kry, die pers pakkie, ‘n 1 kg broodmeel en bruinsuiker?”
Ek stap verder om die huis. Ek kyk vlakte toe. Vlakte…Vlak, Vlakker, Vlakte
En ek begin te stap.
Eerste tree:
Fokus net op my voeteval. fokus op my asemhaling. In, uit, in , uit.
Tweede tree:
Fokus op die klanke om my.
Stil, Stiller, doodstil.
Derde tree:
Konsentreer nou op die volgende tree.
Vierde tree:
Fokus op die volgende trap en asem.
Toe ek so ver die vlakte in is dat ek nie meer my huis of die see kan sien nie, begin my kop my hart se ritme vat.
Trap trap trap trap trap…
Asem, asem asem.
Toe ek omdraai om terug te stap, hang die son al baie naby aan die see. Dis nie lank nie, dan donner die son in die groot see. Die stap word ‘n gebed.
Ek bid vir my brein. Ek bid vir my asem. Ek bid vir my trap. Ek bid vir my huis en toe bid ek vir die vrou met die kopdoek
My kopdoek-vriend. Ek het jou gemis vandag. Ek moes vir jou gewag het. Ek wonder of jy kwaad is vir my. Ek sal verduidelik dat ek moes stap.
“Jammer, ek het nie bedoel dat jy voor dooiemansdeur moes kom staan het nie. Jammer. Eksuus dat ek nie by die huis was nie. Jammer, ek het nie bedoel dat jy voor dooiemansdeur moes kom staan het nie. Jammer” oor en oor.
Bid…bid….BID.
Asem in en uit.
My kop word stil.
Ek gaan sit op ‘n klip en wag dat die son heeltemal in die see val. Dis koud, skemer en stil.
Ek stap stadig terug. Vannaand se geluide is anders as vanmiddag se geluide. Aand geluide is anders as dag geluide.
My kopdoekvrind…ek is so so jammer.
Ek tel ‘n paar ronde klippies op. Sit hulle in my sak. Ek haal nie my hand uit my sak uit nie, maar loop en speel met die klippies. Om en om. In my handpalm, dan tussen my vingers. Haal een uit, sit hom onder my tong, sit hom weer terug.
Dis donker. Dankie Here.
Ek stap met die stofpad af, tot by my voordeur. Ek stap op die skulppaadjie en die kraak-kraak…dis ‘n engel wat praat.
Ek stap na die wasgoedlyn toe, dalk is die voëltjie nog daar?
Ek stap om, na die kombuis venster toe wat see toe kyk.
Daar beweeg iets in die kombuis. ‘n Lig is aan. Nog ‘n beweging. ‘n Geluid.
Ek stap weer om die huis op die skulppaadjie sodat hy kraak. Dit het my troosgeluid geword. Dis my engelstem. Dit help vir die bang.
Ek klim op die kant muurtjie, dan op die dak. Stadig en stil tot in die middel van die dak waar die skulp met die engel in lê. Ek tel die skulp op, sit dit in my handpalm en vra die engel om my te beskerm. Wie is in my huis?
Ek haal die ronde klippies uit my broeksak en sit hulle langs die engel-skulp neer. Dis volgende week se skulpe. Hulle kan hier bly vir ‘n rukkie. Dit is seker Vrydag, Saterdag, Sondag, Maandag, Dinsdag en weer Woensdag klippies die.
Ek klim van die dak af, stap kombuis toe en maak die deur stadig oop.
“Waar was jy?”
In die veld.
“Hoekom los jy die deure oop?”
Ek het vergeet.
“Hoekom het jy nie die grocerie-lys gaan koop nie?”
Te bang.
“Jaag weg die bang”
Is jy kwaad vir my?
“Nee, kom sit. Ek het brood gebak. en hier is ‘n snoek. Ek het hom gebak. Met ‘n lekker degie om. Die brood is vars. Ek het hom botter gesmeer, al om sy lyf, en hom in ‘n sakkie ‘n plastiek sakkie gesit sodat hy in sy eie sweet staan. Dit maak die kors saf…harde kors is nie gemaak vir my gums nie”
Ek lag.
“O, jy kan lag?”
Ja.
“KOm, kind, kom sit tog.”
Ek gaan sit en kyk my kopdoekvriendin aan. Haar hande oud en rustig. En baie mooi. Mooi, mooier, mooiste.
“Ek maak tee, kom drink”
Dankie
“Jy kan nie so laat in die veld gaan loop nie. Hier is slange en skerpioene.”
Ek het ‘n engel op my dak…
“Wat is jou naam?” vra ek.
“Hulle noem my Ousus Adams. Party mense noem my Ousus Kallie. Jy noem my OUsus”
Dankie vir alles, Ousus.
“Jy weet, Die Here vra nie wie en wat ons is nie. Die Here se hand is groot”
Ek weet.
“Ek weet ook”
Wat weet jy, Ousus?
“Van jou probleem”
Ek eet die brood.
Ek drink soet tee.
Die vis is lekker.
“Vir my hoef jy nie bang te wees nie. Die Here het my op jou pad kom neersit. Ek weet jy soek skulpe. Ek het gevra dat iemand vir jou aanry met ‘n bakkie. Hulle sal more klomp kom afgooi. Hoe proe die vis?”
Baie lekker
“Sit ‘n stuk van die snoek op die brood en proe hoe lekker is dit”
Goed.
“Ek moet huistoe gaan. Sluit die deure. Ek is more oggend vroeg hier om skottelgoed te was. Moenie die kombuis opruim nie. Ek sal . ”
Dankie
Ousus stap deur toe, trek die onder deur toe, sit hom op knip. Net voordat sy die boonste deur toetrek, lê sy met haar voorarms op die deur, slap hande voor haar en sê.
“Moenie ‘n klippie
in die fles gooi nie. Ek het reeds vandag se klip ingegooi.”
Dankie
Watse dag is dit vandag?
“Dis Saterdag.”
Hoe laat gaan die son onder?
“Net so voor 9 is dit donker, ek moet loop”
Koebaai, dankie vir die brood en vis.
vir ‘n oomblik kyk ons vir mekaar, in die oë. Wanneer laas het ek iemand in die oë gekyk?
Ek stap weer uit, klim op die dak en gaan lê met my kop op die engel-skulp. Dis lank na middernag toe ek afklim, in die bed gaan klim en slaap…slaap….slaap…stil…sjuuut…stilletjies….slaap nou rustig, kind, rustig….Kind?…slaap rustig.
Dankie. Sommer net dankie. Vir jou stories. Vir die klippies en skulpies en die Engel op die dak.
LikeLike
Sy is voorwaar ń engel!!!
LikeLike
“Mag die bome groen bly
en die sterre wit,
en mag daar altyd mense wees
wat mekaar sonder skaamte
in die oë kan kyk –
want die lewe is ‘n asem lank
en die sterre op die Anderplek donker.” – Breyten Breytenbach (die het net in my kop gespring toe ek jou storie lees, dis al)
Dank die Here vir die Oususse van die lewe.
LikeLike
Ongelooflik mooi! En so waar – maak nie saak wie of wat ons is, of in ons verlede gebeur het nie, God se hand bly GROOT! Ek dink ook dat Ousus deur die Here by jou geplant is. Ek verwag wonderwerke en dat daar ‘n nuwe seisoen vir jou aangebreek het.
Die skulpies teen die dak is pragtig, alhoewel dit lyk na groot werk? Ek wou vra waar kom die hoop skulpe voor die hekkie vandaan, maar nou weet ek.
LikeLike