KOPREIS 3 (DIE BEGIN VAN DIE SKULPE)

kopreis 2

Die blou lap voor die venster lyk mooi.  Ek kyk vir lank daarna.  Die hout wasgoedpenne lyk nie te mooi nie.

Dalk as ek hulle verf. Blou of wit, sal dit beter lyk. Dit is net tydelik. Ek sal binnekort regte gordyne kry.

Gordyne maak tog ‘n plek warm.  Dalk blinds.  Dalk skulpe aan ‘n tou ryg en dit hang.

Ek hou van die idee van skulpe ryg en hang.  Klomp wit skulpies aan ‘n mooi tou. Ek kan die punte  van die tou aan ‘n skulp vasknoop en  dan stuk vir stuk inryg.

Ek kan die tou dan deur die gaatjies ryg totdat dit lang stringe is. Ek het dit al in prentjies gesien. Dit sal mooi lyk.

Maar waar gaan ek skulpe optel?  Ek het darm ‘n lee verfblik waarin ek dit kan gooi.  Dalk kan ek maar eers met ‘n Checkersakkie loop en dit daarin gooi. Maar ek dink dit gaan te min wees.

Ek kan dalk by iemand ‘n kruiwa leen.  As ek na die winkel stap en vir hulle vra of ek ‘n briefie op die muur kan plak. Soos ‘n kennisgewing. Ja, ek sal ‘n kennisgewing skryf en  dit by die winkel gaan opsit. Ek is seker dit sal goed werk.

________________________________________________________________

Toe ek wakker word, is dit piknag donker.  Die klank van die see is al klank wat ek kan hoor. Niks anders nie.  Doodstil. Ek hou daarvan.

Ek staan op,  trek die toutjie wat die lig moet aanskakel.  Klik-klak. Die lig gaan nie aan nie.

Wat nou?  Werk die lig nie?

Ek kyk by die venster uit, see se kant toe. Die hele dorp is donker.  Nie eens die sigaret masjien se dowwe lig in die winkel is aan nie.  Al lig is die duisende duisende sterre in die hemel.

Ek stap buite toe, kyk op en vind vrede. Dis hemels. Dis Goddelik. Almal slaap, net ek is wakker.

Om die nag so te ervaar, sonder elektrisiteit, is ‘n ding wat ‘n mens diep binne in jou kan stil kry.

Ek stap weer by die huis in, maak die deur saggies toe. So asof daar nog mense in die huis moet wees, wat dalk wakker kan word.

Ek is lus vir koffie – praat ek met myself (of ek dink dis met myself)

Die ketel werk nie.  Natuurlik, die krag is af.  Ek kan dalk die gasstoof aansit.  ‘n Pot daarop sit, water kook en dan in die pluncher gooi.

Dis so donker.  Ek wonder of daar iewers in ‘n boks ‘n kers of iets is. ‘n Flits?

Die bokse maak my bang.  Ek moet hulle uitpak en uitsorteer. Ek weet nie waar om te begin nie.  Ek sal wag tot dit lig word.

Ek kry die pakkie vuurhoutjies op ‘n rakkie net bokant die gasstoof.  Dalk het die stoof nog gas.  Dalk het die vorige inwoners dit goed gedink om nie die gasbottel te vat nie.

Die vuurhoutjie maak ‘n lig.  Dis so skerp. Ek is bang iemand kan sien hier is lig in die huis.

Ek steek die gasstoof aan en die blou blou vlam vat. Dis ‘n godswonder. Dankie Here.

Ek wil so graag skulpies gaan haal.  Ek het gehoor iemand sệ dat as jy skulpe om jou huis gooi, ‘n slang nie daarop sal seil nie. Dis seer op sy maag.  Ek sal dit moet doen.

 

“Kop, word net in Godsnaam stil” fluister ek.

Hoekom is my kop so besig? Gaan die kopgeluide nooit stil word nie.

Ek gooi koffie in die pluncher, dan water, dan longlive melk en een suiker.  Ek gaan sit weer op die stoel buite.  Dis see is swart. Ek dink daar is ‘n liggie op die water. ‘n Skuit of iets? Kan dit wees?

Ek het tot ligdag op die stoep gesit.  Ek het om die huis gestap en na die vlakte se kant toe gekyk waar die son opkom. Die wind is stil. Die dorp is stil. My kop maak nog geraas.

 

Ek stap die huis binne, kyk na die bokse wat rondstaan.

Advertisements

2 thoughts on “KOPREIS 3 (DIE BEGIN VAN DIE SKULPE)

Add yours

  1. Wow – ek hou van die wit skulpe op die foto. Mmm … ek dink jy het baie kuns/kreatiwiteit in jou. Hoop dit kom meer na vore in jou skrywes. Die naaste skulp wat ons hier in die hartjie van die bosveld sien, is ‘n slak sin … en dan skaars soos hoendertande.

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: