Die dag toe die trek-lorrie leeg by die dorp uitgery het en my stilte in die huis sak op my neer, net soos ‘n rustige aand sal toesak, toe het die eerste been van my reis begin.
Ek het by die ooste kant se kamer venster uitgekyk. Vlakte. Vlakte en nog vlakte. Saam met die vlakte stap die stilte en saam met die stilte stap die niks.
Ek het na die ander kamer toe gestap, by die venster uitgekyk en al wat ek kon sien is blou see, wit branders, ‘n mislage ver op die rug van die see en skuite.
Hierdie dag het ek geglimlag. “n Bangmaak-glimlag. “Jaag weg die bang” sệ my binnestem.
Ek besef dat ek nou alleen is. Omtrent 170 km na die naaste groot dorp waarvan 70 km nog ‘n grondpad is…maar wag, ek het nie ‘n kar nie, vir wat sal ek nou sit en kilometers tel?
Ek begin die kos-bokse uitpak. Groot voorraad. Koffie, suiker, meel, longlive milk (baie belangrik), rooibos tee, gewone tee, brood, pers pakkies korrelsuurdeeg en ‘n groot blik beskuit wat ek sommer by die winkel gekoop het.
Ek soek in ‘n ander boks na die ketel, plugs, koppies, koffie pluncher en teelepels. Ek maak die breekgoed stadig oop wat in koerant papier toegedraai is. Maart, 2007, Beeld, MAN STERF NA AANVAL OP PLAAS, lees ek die koerant opskrif. Ek frommel hom op en gooi dit in die vuurmaakmandjie.
“Koerant is soos goud hier” hoor ek my eie stem.
Mens kry nie die nuwe koerant in die dorp te koop nie. Nie eens ‘n tydskryf nie. Blykbaar moet mens maar by ander mense die nuutste leesgoed gaan leen.
Oor my dooie liggaam. ek sal nie dit doen nie…Nooit.
Ek maak die kraan oop en die water kom maar stadig uit. Tap die ketel vol water, en kook hom. Eers staan ek met altwee hande gedruk op die baie eenvoudige kombuis toonbank en kyk die ketel aan, so asof die ding vinniger moet kook. Ek stap kombuis venster toe en kyk.
Stofpad, paar eensame geboutjies hier en daar. Lyk soos ‘n keffie daar onder. Daar loop iemand stadig, wind op, met ‘n sakkie goed. Haar voorskoot en bont-lap-rok waai styf teen haar lyf. Die wind pluk aan haar kopdoek. Sy trek die doek met duim en wysvinger stywer oor haar voorkom. Ek druk my hande op die wasbak en staan op my tone met die hoop om mooie te kan sien.
“Word ek mal” dink ek. Die help nie ek staan op my tone om verder te kan sien nie. Dit gaan nie die ver nader bring nie.
Ek stap links verby die wasbak en maak die kombuis deur oop. ‘n Wit deur met ‘n bo deel en onder deel. Ek stoot net die bo deur oop.
‘n Groot boom by my agterdeur! Ek hou hiervan.
In die boom sit voeltjies en skreeu.
Ek maak die deur weer toe. Die wind is te erg.
Ek gaan staan weer voor die wasbak. Waar is die vrou nou heen?
Ek trek my oe skrefies en daar kom sy weer by die keffie uit. Sy stap straat af. Ek wens dat sy wil omdraai sodat ek haar gesig kan sien. Ek skud my kop vies vir myself. Dis te ver om haar gesig te sien…heeltemal te ver.
Die ketel kook, ek gooi moerkoffie in die plucher en dan die water. Roer dit om en die moer maak so donker lagie onder in die pluncher.
Nou vir die suiker, melk en dan koffie.
Ek trek die draadstoel nader op die die groot stoep, skuif sodat ek die see kan sien (en hoor) en gaan sit langbeen op die ou draadstoel. Dis seer op my boude. ‘n Ongemaklike stoel. Baie ongemaklik.
Ek hoor ‘n kar dreun. Ek hoop nie hy draai in nie. Ek gaan nie die deur oopmaak as dit iemand is nie. Ek gaan agter die bank moet wegkruip as iemand klop. Hulle sal my deur die venster kan sien.
Gelukkig ry hy verby. Niemand sien my nie. Dankgod.
Ek vat ‘n slukkie van die koffie. Dis brak. Dis sleg. Dis net fokkenwil brak.
Ek drink die koffie leeg, sit die koppie op die grond langs my neer, maak my oe toe en vra God om ‘n engel voor my deur neer te sit om mense uit te hou…te keer.
Toe klop iemand aan die voordeur.
Ek stap op my tone sitkamer toe, buk agter die ou bank, gaan lệ op my maag en wag dat die klop stil word.
Doef-doef….doef-doef…doef-doef…dis nou net my hart wat klop.
Mooi geskryf
Ek het lekker geslees, kan nie wag vir (2) nie.
LikeLike
Interessant! Nog fotos ook asb., al is dit van die boom, voeltjies, vlaktes. Ons is vreknuuskierig.
LikeLike