KOPREIS (2)

kopreis 4

…vervolg van kopreis 1 af….Die klop aan die voordeur het nog vir n paar keer geklop-koppertjie-klop…klop-klop, kloppertjie-klop.

My hart se klop teen die klipvloer het nie bedaar nie. Doef doef doefdoefdoefdoef.

Ek lệ met my bene opgekrul en my kop rus in die waai van my arm.  Die son kom al deur die anderkant se vensters wat seekant toe wys.  Dis seker al laatmiddag as die son daai kant hang, dink ek.  Die klop aan die deur het stil geword, maar die klop in my hart het bly timmer aan my ribbekas.

Heelwat later word die getimmer stiller maar ‘n ander timmer begin in my kop.  Meer soos ‘n kar wat op ‘n grondpad rattle….klarra klarra klarra…

God help my, laat die mense net my huis mis kyk.

Dis nou stil.

Ek staan op en die son is besig om in die see te sink.  Die wind het bietjie gaan lệ.

Ek stap met die 2 trappies op na die vertrek wat se vensters vlakte toe kyk.

Ek sal gordyne moet soek.

Ek sal die bokse moet uitpak

Ek sal moet koes-koes loop sodat mense my nie kan sien deur die vensters nie.

Ek kry ‘n blou stuk lap in ‘n boks waarmee ek ‘n paar fotos toegedraai het. ‘n Mooi lap. Met baie tossels en skulp motief. Dit pas by die see tema.

Ek knyp hom met ‘n paar wasgoedpennetjies aan ‘n venster vas. Dis beter.  Hulle sal nie kan inkyk nie.

Wie is hierdie mense, vra my kop vir my?

Ek weet nie, antwoord my Mond

Hoekom kruip jy weg? Vra my kop

Sommer, sệ my mond.

Kan die raas in my kop nie net stil word nie?

Ek stoot die venster effentjies oop. Die wind waai nou ander kant toe.  Hy ruk en pluk nie so erg aan die vensters nie.

Ek dwaal rond.  Onderste vertrek wat see toe kyk, kant vertrek wat vlakte toe kyk, ander kant se vertrek wat pad af kyk en kombuis wat ander-kant se pad toe kyk, winkel se pad.

Daar loop weer iemand winkel toe. Hy stop, kyk na ‘n opslaan huis aan die linkerkant, sy mond gaan groot oop en sy hande beduie.  Ek hoor niks. Dis te ver.

Ek staan en kyk vir die see.  ‘n Man met sy hond stap op die strand. Die son het nou in die see gedonner.

Dit word donker en ek sal beddegoed moet soek. In watter vertrek moet ek slaap?

Die een wat vlakte toe wys of see toe? Dalk see toe. Dalk onder in die sitkamer deel. Dis weg van die pad af. Maar dalk die vertrek wat see toe wys.  Ek sal dan in die nag iemand kan hoor wat verby stap om aan die voordeur te klop.  Die venster staan reg in die gesig van die see-wind. Die koue wind. Ek het genoeg beddegoed sodat ek nie sal koudkry nie.

Ek haal die laken uit, trek dit oor die bed.  Eers by die voete dan bo by die kop.  Dan linkerkant en   dan die regterkant.  Glad stryk met die hand. Styf trek met my vingerpunte wat onder die matras indruk.

Gisteraand het julle nog in die boks geslaap, dink ek aan my spierwit beddegoed.

Hoe voel dit om in ‘n boks te slaap? Wonder ek.

Soos in ‘n doodskis, dalk?

Dalk soos ‘n tydelike doodskis, want later kry hy weer lewe.

Die dak kraak. Ek skrik.  Ek hoor stemme.

Wie is dit? Ek sal nie tyd he om na die onderste vertrek te gaan wat seekant toe kyk nie. Ek sal net agter die bed lệ en wag totdat die stemme weggaan.

‘n Stem sệ in my kop dat dit laat word.

‘n Stem in my ore sệ dat dit reeds laat is.

Maak tyd dan nou regtig saak?

Ek lệ langs die bed en kyk na die dak.  Dan af na die muur se kant toe.  Daar is ‘n lang toutjie wat uit die dak hang met ‘n knopie aan die einde. As jy aan die toutjie trek, sal die lig aangaan. Ek wil nie. Ek wil in die halfdonker lệ

Ek sal nie die lig aansit nie.  Ek sal in die donker stap totdat ek nie meer kan sien nie.

Ek dink die stemme is nou weg. Ek kan maar opstaan.

Ek maak die kombuisdeur oop en stap uit.  Dis lekker buite. Bietjie koud.  Die wind ruk aan my hemp. Dis asof die wind soos ‘n trein blaas.

My voeteval op die sand is sag.  Ek kan myself nie hoor stap nie. Dis ontstellend. Ek sal ‘n plan moet maak. Ek sal skulpies gooi dan sal ek hoor as iemand daarop trap. Ek sal ‘n hekkie aansit dan sal mense buite bly.

Wat help dit alles? Vra my kop

Ek het mos ‘n engel daar neergesit….Die engel sal help.

 

2 thoughts on “KOPREIS (2)

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Start a Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: