LYDIA EN DIE WIT-VERGEET-BOSSIE

brood

 

 

My mens,dis nou al 3 jaar wat ek by Smiley werk.  Ek kan nog onthou hoe ek hier by hom beland het, soos gister sit dit nog in my gedagtes vas.

Daai dag in Dorothy se winkel toe ons ontmoet het was asof Die Here Homself aan ons kom vasbind het.

Ek het hom maar Smiley begin noem. Hy het daardie dag  sy regte naam vir my gegee, maar ek kon nie daai naam onthou nie. Toe vat ek maar die naam Smiley en so sal dit wees.  Hy het mos daai manier van smile wat mens se hart sommer saf maak. Saf soos ‘n ma se hart.

Ek het hom op ‘n keer gevra wat hy nou juis hier op die vissersdorpie kom doen het. Dis dan so alleen en afgesonder hier.  Die naaste groot dorp is omtrent 2 ure se ry hiervandaan, en dit nogal grondpad ook nog.

 

Ek het hom sommer so reguit in sy gesig gevra, want die nuuskierigheid het my klaar. Dit het aan my bly klou, soos wanneer mens aan ‘n sopbeen sal sit en suig.

 

“Kyk hier Smiley, sệ nou vir my hoekom het jy nou juis hier in die baai kom bly?” het ek sommer net gevra en hom stip aangekyk

Mens, het ek die kind jamme gekry toe dit lyk of sy oge vol trane wil skiet.

“Ag my Liewe Engel, ek het sommer kom sterre pluk” was sy antwoord, toe smile hy.

“Nou wat maak jy met die ster as jy hom gepluk het?” wou ek weet  en ek sou aanhou karring met die ding totdat ek die antwoord het wat ek wil he.

“Ek vryf hom blink, dan sit ek hom onder my kussing” het hy gesệ

Dis asof die kind ‘n antwoord vir alles het.  En daai antwoorde kom so sonder dat hy eers dink. Ek verwonder my aan dit.

“En dan as die ster onder my kussing lệ, droom ek soete blink drome. Drome van jou” het hy gesệ voordat ek nog kon verder vra.

 

Mens, ek het op die kombuis stoel gaan sit en hom aangekyk soos mens vir ‘n spooksel in die donker sal aankyk.

Ek het my hande so in my voorskoot gevou en toe my kopdoek dieper oor my voorkop getrek.

 

“Maak daar vir ons ‘n koppie rooibostee, toe man Smiley” het ek toe maar gevra.

Dis asof ek klaar die antwoord gekry het op die vraag van hoekom hy hier kom bly het.

Sien, ek het geweet wanneer om te praat en wanneer om nou maar die ding te los.

“Maak jy vir ons tee, toe my ou Engel. Jou tee proe moes so lekker soos wyn”

“Sal jy nou ‘n duiwelsding oor my kom uitspreek?’ het ek kamma geraas met hom.

Mens kan nie vir die kind kwaad word of raas nie.

“Watse duiwelsding?” het hy gevra met oe wat soos pierings lyk.

Ag vadertjie tog, dis asof ek my eie tong kan afbyt as ek ‘n ding aanpraat wat liewer kon bly.

EK weet mos dat Smiley-kind altyd agter ‘n storie aan is

“Ag nee, Boerkind, ek praat sommer. Sit daar die ketel aan, dan maak ek die tee. Kyk hoe mooi lệ die see daar agter.  Vandag kom die skuite weer leeg in.” het ek die ding ander pad toe gepraat.

“Hoe weet mens dit, Lydia?” het hy aan die ander ding begin krap.

Ek het toe maar besluit om die vraag oor die see en snoek te los en te vertel van my vervalling in die wynbottle.

“Nee man, lank terug toe my man nog geleef het, het ek mos verval in die bottle.” Het ek begin vertel.

Mens, ek praat mos nie eintlik oor hierdie ding nie, maar ek praat voor Smiley asof dit die regte ding is.  So sonder om skaam te wees.  Sien, soms weet ‘n mens net dinge.

“Haai, Lydia my Engel. Hoe bedoel jy dan nou?”

“Ja, ek was rof in die bottle.” Het ek so in die tee-maak vertel.

“Haai, my Liewe Engel. Gelukkig is dit verby. Dis gister-dinge.” Het Smiley gesệ en my hand gevat.

 

Op daai dag was dit asof daar ‘n ketting aan ons harte vasgemaak is om nooit weer losgemaak te word nie.

 

Dis soos ‘n ketting-band wat nie losgemaak wil word nie. Dis ‘n vir-altyd-ding

“Jy weet, my oorlede ou man het al baie keer sy klere gevat, weggeloop net om later weer terug te kom.  Maar ek het in die bottle gebly.”

“Wanneer het jy toe die bottel gelos,” het hy gevra.

“So paar jaar nou. Dalk so 8 jaar wat ek hom nie meer vat nie. Dis nou net die rook wat my nog vashou, maar hy is bietjie beter as die wyn.”

 

Smiley het toe by die kombuis tafel, langs my kom sit.  Hy het ‘n slukkie aan sy tee gevat, by die venster uitgekyk en die beskuit-blik nader getrek.

“Ag nee, Lydia, Kyk die blik is dolleeg. Wanneer het die beskuit dan opgeraak?” het hy gevra. Net soos sy maniere maar was.  Hande en arms in die lug met ‘n stem wat te hoog is vir ‘n man van sy ouderdom.

“Smiley, dis jy wat die beskuit so eet.  Ek weet mos dat jy in die nag opstaan en die beskuit saam met melk eet.” Het ek vir hom gesệ.

“Hoe weet jy dit?: het hy gevra en byna op my skoot gespring. Ek moes net keer.

“Dis wat die ‘wit-vergeet-bossie’ vir my geseệ het.” Het ek sommer so aspris gesệ net om die aandag af te kry van die lee blik beskuit, want ‘n lee blik beskuit beteken dat daar vandag geknie moet word vir brood en my elmboog is reeds nie lekker na laasnag se koue wat oor die baai kom leệ het nie.

 

Ek het hom stip aangekyk, want ek kan sien dat hy ‘n storie wil he oor die wit-vergeet-bossie.

 

“Lydia, my geliefde Engel mens, wat vir ‘n ding is die wit-vergeet-bossie?” het hy byna soos ‘n simpel mens aangegaan.

Jong, ek kon nog nooit verstaan het hoekom hy altyd Ge-Engel en Ge-Darling het. Ek het mos ‘n naam, maar sien, dis die eerste keer in die 64 jaar van my lewe ‘n blanke mens my so Engel en Darling. En om by te sệ, die ander kleurling mense in die baai was dik jalloers oor dit.

“Boerkind,” het ek begin en hy het geweet as ek eers ‘Boerkind” dan kom daar ‘n storie.

“Die ou mense het geglo dat as mens daardie spesifieke bossie in die veld pluk, hom fyn druk en dan kou, het mense geglo wat jy praat.  Soos as jy moet hof toe gaan, kou jy die wit-vergeet-bossie sodat die smaak in jou mond sit.  Of as jy stout was en jy moet ‘n storie maak vir jou ma, kou jy vir wit-vergeet-bossie.”

“Maar my Darling, dis mos klomp snert daai” het die kind sommer in my gesig vir my gesệ

 

“Dis die Godsewaarheid.  Daai bossie groei hier agter in die veld as jy Doppieskraal se kant toe stap. Hy het sulke fyn blommetjies wat lyk soos katoen klossies.  Ons het hom dan gepluk en gekou. Daar was die tyd toe ek en my broer van daai geel appelkosies by ou Cohen se winkel gesteel het en ons gevang is.  Daar was nie tyd om nog Doppieskraal toe te hardloop om die bossie te pluk nie, toe sệ my broer dat hy nog ‘n takkie van gister se pluk in sy sak het.  Ons het sommer so kop onderstebo oppad kafee toe aan die ding gekou.  Ou Meneer Cohen was streng en ons was so bang dat hy vir onse ma en pa sou vertel. Dan wag daar ‘n helse pak by die huis vir ons. Meneer Cohen vra toe of ons die appelkosies gesteel het en ons sệ uit een mond, ‘NEE”. Toe sy het ons lieg mos nou dik. Hy het hulle getel en toe ons by die deur uit is was daar 4 weg. Waar is hulle heen?” vertel ek die storie vir Smiley, maar ek las maar bietjie stukkies by

“Haai nee, My darling, het hy toe vir jou ma vertel?”

“Wag eers, moenie die storie daar voor loop haal nie.  Ons sệ toe vir hom dat ons regtig nie die appelkosies gevat het nie, toe sệ hy vir ons dat ons maar daardie bossies kan uitspoeg, dit werk tog nie”

Die kind lag so.

“En toe? vertel nog”

“Ek kyk toe vir my broer en sien hoe hy daai bossie afsluk. Ek sluk ook toe maar.  Ons was so bang. Ons het kombpleet gestaan en bewe soos ons voete bymekaar voor die man staan. En daar gaan Meneer Cohen aan die lag en sệ dat as mens die wit-vergeet-bossie insluk, jou derms gaan knoop”

 

Maar toe lag Smiley so erg dat ek sommer saam begin lag het.

“Het jou derms toe geknoop?” het Smiley gevra.

“Ja, dit het omtrent kasterolie sluk gevat om daai derms weer los te kry” het ek sommer die storie aangedik.

 

Dis so deur die lag deur, dat Smiley toe opstaan en in die kombuiskas beginner grou.

“Wat maak jy nou?” het ek gevra.

“Ek soek die meel en suurdeeg. Ons moet knie. Hier is nie brood in die huis nie” het die kind die ding sommer so in die lug loop vang.

“Jy gaan knie, nie ek nie. Ek het ‘n elmboog aan my” het ek vir hom gesệ want ek het mos nou my sit gekry op die kombuisstoek en die sonnetjie was so lui op die vloer by my voete val.

“Ek sal knie, maar dan gaan jy die oond dophou as ek my lệ gaan lệ so 12 uur se kant.

“Ek sal die oond dophou” het ek gesệ

 

Man, die kind het mos die manier om in die middae te slaap. So van twaalf uur se kant af tot drie uur.  Hoe hy nog slaap oorhou vir die nag, verstaan ek glad nie.

 

Daar sit ek toe en kyk hoe hierdie Boerkind die meel beginne meng en dit toe knie.

Net soos ek hom geleer het.  Dis asof ek na my eie hande sit en kyk, soos daai boerkind knie.

Dit smaak my sy knie-ery maak die trane in my los.

“Jy knie daai deeg te droog en te styf” het ek sommer gesệ

 

“Issie, Lydia, my Darling, jy het vir my geleer dat ek hierdie deeg so moet oorvou en hom dat uitknie sodat dit soos ‘n bul se kop met horings lyk. Kyk, so” het die Boerkind my parmantig aangepraat.

 

Genade, mens, ek het sommer hartseer gevoel. Dis mos die einste hoe ek hom leer knie het. Dit smaak my dat die broodbakkery nog ‘n ketting was wat ons aanmekaar vasgeknoop het sonder om losgemaak te wil word.

 

Ek vat toe maar die broodpannetjie en beginne hom met botter uit te smeer.  Stadig van hoek tot kant, veral in die hoekies totdat my hande blink van die botter. Ek vat toe  die bak waarin die brood moet swel en spoel hom uit.  Ek droog hom goed af.  Ek skud toe die plastieksakkie uit waarmee ons hom gaan toedraai.  Toe vat ek die kombers, stap tot by die kombuisdeur en skud hom uit.

My mens, toe die kind die deeg klaar geknie het, vou hy hom in.  Hy gee dit vir my aan en ek sit dit mooi netjies in die skottel om te rys.  Ek bind die plastieksakkie om hom vas en vou hom in die kombers toe.

“So, nou kan hy maar op sy tyd rys” het ek gesệ.

So vat Smiley die toegevoude dee gen stap kamer toe.

“Wat gaan jy met die deeg maak?” het ek verbaas gevra.

“Ek gaan hom in die bed sit sodat hy sommer lekker kan rys. Dis mos warm so onder die komberse van ‘n kooi” het hy uitbundig gelag. Ek het hom gelos.

Ek het darm wonderlike goete by die boerkind gesien.  Iets wat ek gedink het ek nooit in my hele lewe sou sien nie.

Hy het by my kom sit.  Sy voete ook in die son wat deur die kombuis deur val.  Ons het vir die see gesit en kyk, maar in onse gedagtes was daar baie prate wat gepraat is.

“Lydia, my Darling.  Daai blinkgevryfde ster wat ek onder my kussing sit, is ‘n ster vir die wyn-bottel waarin jy verval het, maar uitgekom het. Dis ‘n ster vir die wit-vergeet-bossie toe jy die appelkosies gesteel het. Dis ‘n ster vir die brood wat jy my leer bak het.  En ‘n special ster, net virjou.

 

One thought on “LYDIA EN DIE WIT-VERGEET-BOSSIE

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Start a Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: