LYDIA EN DIE BOERKIND
Stanley Cierenberg
‘N STORIE OOR TWEE MENSE WAT BY MEKAAR UITKOM…
Nou kyk My mens, die geskinder het onse dorpie goed getref toe daardie snaakse mannetjie vinger alleen hier kom bly het. Omdat die dorp verlate en klein is, kan die mense nie wag vir ‘n nuwe intrekker of ‘n storie nie. En so was dit ook gewees.
Hy het in daardie ou hoekhuis gaan bly. Dis ‘n entjie uit die dorp uit, maar nogsteeds ‘n see uitsig. Sommige mense het gesệ dis maar beter dat hy daar op die soom van die dorp loop bly, want hy is darm maar te eienaadig om hier tussen die res van ons te bly.
Siestog, ek het te aardig gevoel oordat hulle die mannetjie so beskinder. Skaamteloos sệ ek vir jou.
Dorothy wat die winkel het sệ vir my die mannetjie stap vroeg in die oggend pad af, see se kant toe. Dan stap hy ver af, tot anderkant daai duine, dan verdwyn hy blykbaar vir ure.
Dorothy sệ dat hy daar agter die duine besig is met ‘n toordery. Dis ‘n altaar wat hy daar het, het sy vir iemand vertel.
Oom Pierre wat heeldag op sy stoep sit en die see bekyk het al geseệ die mannetjie het harsingskudding opgedoen toe hy klein was, dis hoekom hy so alleen dwaal. “As jy maar kyk loop hy stoksielalleen see toe, duine toe en soms net veld in.
Oom Pierre sệ hy loop en praat met homself soos wat mens met die bose geeste sou loop en praat. Dis ‘n boosheid. Daar sal gebid moet word. “Ons sal die Profeet moet gaan vertel” het hy gesệ
Dis toe die ding nou al by bid en hande oplệ gaan draai het, dat ek besluit het om af te suiker na Dorothy se winkel om te hoor. Ek het skoon swak gevoel die dag toe Die Profeet een Sondag oggend oorsly loudspeaker van die bose, die duiwel en sy trawante in ons midde praat, sodat die hele dorp kon hoor.
Dorothy sal weet, want die mannetjie koop mos daar. Dis in elk geval die enigste winkel op die dorp.
My bene het skoon te kort gevoel soos die haastig in my gesit het.
“Dorothy, jy sệ die mannetjie is beboos?” het ek gevra en my hande so in my voorskoot se sakke gedruk.
“”Lydia, as daai mannejie stap, stap die boosheid lagns hom. Hand aan hand.” het sy gesệ en haar bors vasgegryp.
“Haai nee, Mens, kan seker nie so erg wees nie” het ek gesệ en my arms op my bors gekruis.
“Het jy dan die boosheid langs hom sien wandel, Dorothy?’ moes ek vra.
Dorothy kon my nie antwoord op daai vraag nie.
Ek het my staan gestaan om die storie te hoor. Ek steur my gewoontlik nie aan mense se storie-makery nie, maar hierdie ding het my gedagtes gevat
“Jy weet, Lydia, werk is skaars op die dorp. AS hier nuwe mense inkom moet ‘n mens maar spring om ‘n huiswerkie of strykwerk te kry voordat iemand anders dit doen. Hoekom gaan jy nie maar daar na sy huis toe en vra nou of daar ietsie is om te doen nie?” het Dorothy my aangepraat.
“Oor my dooie liggaam, Dorothy” het ek byna verstik.
“Daai mannetjie sal my dood veroorsaak. Hoor net hoe gaai hy op die vlakte, en die kerse wat hy so in die aand brand” moes ek net keer.
“Nee Lydia, dit kan nie so erg wees nie. Sien, noudat jou man ook oorlede is, sal jy iets moet doen vir ‘n ekstra. Die vissermanne sệ vir my as die snoekskuite inkom is die mannejtie daar en hy koop snoek laat dit snaaks lyk. Smaak my dat hy darm geld het” het Dorothy my nog aangepraat.
Ek kon sweer dat sy my so aanpraat omdat sy self nuuskierig is.
En daar gebeur die ding toe voor my oe. Mens, ek dog die see kon my insluk toe die mannetjie by die winkel ingestap kom. Kort, vinnige treetjies, regop rug en arms wat beduie.
“Mornings Girlies, hoe gaan dit vanoggend” het die mannetjie gepraat met ‘n stem wat dalk bietjie te hoog is vir ‘n man s’n.
Ek het vir Dorothy gekyk en sy vir my. Dis asof daar ‘n bose gees oor die winkel kom lệ het. Of altans, so het dit vir my gevoel. Maar dis asof daar iets moois aan die anderkant van die bose gees was. Soos ‘n engel of iets.
“More mens, hoe gaan dit?” het Dorothy gegroet en moeilik gesmile..
“Dot, my geliefde Dot, ek kom kry net ‘n botteltjie melk vir die koffie. Terwyl ek nou hier is, ken jy nie iemand wat in my huis kan kom werk nie. Ek sukkel om alles gedoen te kry”
Dis op daardie oomblik dat ek my kopdoek so met my duim en wysvinger oor my voorkop getrek het en sommer deur toe gemik het.
“Ja, Hartjie, Lydia soek reeds ‘n los werkie. Sy het nou net vir my gevra of ek van iemand weet” het die Listigheid in Dorothy se mond kom klim.
“Nee wat, los maar. Ek is te oud om te werk. Ek het ‘n knieg aan my en my kop bly seer.” Het ek al wat verskoning is uitgedink.
En toe gaan die mannetjie eers aan…
“Jy oud, kyk my liewe engel jy het nog klomp lood in daai potlood van jou”
Die mannetjie het gepraat asof dit sy laaste praat is. Op en af, heen en weer en het hy met daai hande en arms van hom beduie.
Kan dit wees dat hierdie mannetjie reg in die kop is? Het ek by myself gewonder.
Ek is toe daar uit en wat daar tussen hom en Dorothy gepraat is sal ek nie weet nie.
Maar mens, so het 2 weke verby gegaan en toe ek weer sien, staan ek in die mannetjie so kombuis en was skottelgoed. Asof dit nie genoeg is nie, hang ek sy klere op die draad om droog te word en stryk dit ook nog.
“Aai my liewe Lydia ek is tog se bly dat jy tog maar besluit het om vir my te kom help in die huis.” Het hy die dag begin.
“Ja, ek moet sệ dat ek ook nie te spyt is oor die besluit nie. Jy het my nie veel van ‘n keuse gegee nie.” Het ek op ‘n dag vir hom gesệ
“Ag my liewe Engel, jy red my lewe. Maak daar ‘n koppie tee vir ons. Kom sit eers hier by die tafel. Kom gesels eers” het die kind begin
Jong, in my lewe het ek nog nooit ‘n blanke man gesien wat so oor ‘n storie is nie. En dit nogal storie maak met onse kleurling-mense.
Ek sal nou lieg as ek moet sệ dat hierdie kind, nie in my hart kom kruip het nie. Stadig maar seker, dag vir dag het hy my hart saf gemaak. Al wat mens is in die dorp, tot onder by die blokke, waar almal woon, het my voorgekeer om te verneem na die mannetjie.
Sonder skaam het hulle my uitgevra en al wat ek kon doen is om my skouers op te trek en te sệ dat hulle maar self moet gaan kyk.
“Lydia, het hy toorgoed daar in sy huis” het Dorothy vir my op ‘n dag gevra.
“Jy sal maar moet kom kyk” het ek gesệ en my trui oor my borste getrek en weer aangeloop.
Hoekom die mense nou juis moet dink dat hy toorgoed het, weet ek nie. Hierdie man is dood normaal, net soos die res van ons. Maar aai een ding wat ek wel kan sệ is dat hy van stories hou. Ek moet soms heeldag sit en stories maak. Ek het al vir hom gesệ “Kyk hier, die huis gaan homself nie skoonmaak nie” ….maar hy het niks getraak nie. As hy ‘n storie wil hy, moet hy ‘n storie kry.
Soms is dit lekke, want dan hoef ek nie te werk nie. Net by die tafel sit en stories vertel.
As die dag begin met “Kom sit eers hier by my” dan weet ek dat hierdie huis gaan stilstaan tot namiddag toe, maar sien, ek het nie omgegee nie. Dit was darm te lekker om so met ‘n koppie tee te sit en met die mannetjie te praat. En die tee kom nogal uit sy hand uit. Lekker.
“Dink jy dit gaan koud word vandag” het hy die dag vir my gevra.
“Ja, as jy daar oor die see kyk en sien hoe dik die mis lệ. As daai mis so lyk kan jy maar weet hier is weer oppad. En groot wind more” het ek maar gesệ.
Kyk, ek was ook nie elke dag seker waste antwoorde om vir die kind te gee nie. Ek het maar net gesệ wat in my kop kom
Siestog, ek praat so van die kind. Hy moet seker al in die 30 wees, maar vir iemand soos ek wat in die 60 is, is dit mos maar ‘n kind.
Mens, ek weet nou nie hoe om dit te sệ nie, maar dag vir dag, week vir week, maand vir maand, jaar vir jaar het ek en die man al nader aan mekaar gekom.
Tot op daardie dag, dis nou seker so jaar of wat vandag ek daar begin werk het, wat hy vir my gevra het:
“Lydia, hoekom skinder die mense van my? Hoekom wil die ander wit mense nie vriende met my wees nie?”
Aarde tog. Ek wou gehad het die aarde moet vir my insluk, want sien, ek het dieselfde vraag vir myself oor en oor gevra.
Die ander kleurling mense het dit vir my ook gevra. Tot die vissermanne onder by die skuite het vir my gesệ dat daardie man darm anders as die ander is. Hy praat altyd, lag, maak grappe en vir sommige mense gee hy ‘n drukkie. Ons ken nie daai nie. Hier is dit nog wit by wit en bruin by bruin.
“Lydia, kry ek nie ‘n drukkie vandag nie?” het hy een oggend vir my gevra to ek inval.
Ek was flou van skrik. Voor ek nog iets kon sệ het die kind my en gee my ‘n druk. Asof dit nie genoeg is nie druk hy ‘n soen op my wang. Mense, ek was flou.
“Kom vertel vir my ‘n storie. Hoe was dit in die ou dae hier in Vlakwaterbaai?”
“Was hier vroeer jare blanke mense, of net kleurling?”
Aai tog. Hy het tog so aanhou kerm en ek het geweet waarheen hierdie kerm en vrae heen gaan. Ek was te bang om te antwoord.
“Nee man, moenie die vadoeke so vuil maak nie” het ek anderpad probeer praat toe hy doenig raak met die vadoek.
“Draai toe die kraan. Kyk hoe drup die ding. Is daar nog genoeg gas. Jy weet gas is skaars op die dorp en die Bakkie gaan eers oormore weer dorp toe’ het ek al om die ding probeer praat.
“Toe, sệ nou Lydia”
Het hy aanhou kerm en met groot blou oe na my gekyk.
Man, die saak staan so.
Ons weet nie altyd hoe die lewe werk nie, maar as die Here dinge bymekaar sit, kan ons dit nie weer uitmekaar haa lnie. Die Here vrae nie vraens nie, Hy doen dinge en ons moet dit so vat. Of ons nou wil of nie.
Die mense het aanhou praat. Dorothy het knaend vrae gevra. Die blankes op die hoek waar Meisie werk het tot vir Meisie uitgevra. Niemand het ‘n woord gesệ oor die Mannetjie nie. Dis asof hy sy geheime in ons kleurling mense se harte kom wegsteek het.
“Lydia, hoekom is party mense bruin en ander nou weer wit?” het hy gevra.
“Dis Die Here se dinge daai. Ons mag nie vraens vra nie”
Dis maar al wat in my kop gekom het.
Dis nou al 3 jaar wat ek by die man werk. Ek het sy snaaksigheid maar leer ken. En sonder dat ek dit weet het hy dieper in my hart kom kruip.
Tot op daardie wintersdag toe ek by sy huis instap, en ek ruik iets wat my bene onder my wou laat swik.
Op die hout tafel in die kombuis staan ‘n varsgebakte brood en ‘n pot boontjiesop.
“Kyk, Lydia, ek het dit vir jou gemaak” het hy so hard geskreeu ek kon sweer hulle hoor hom tot onde by die baai waar die visserskuite staan.
Ek dog eers ek sien liegte, maar dis die Godsewaarheid hier voor my.
“Here my Boerkind, so het Die Here brood vir die mense gebreek, dit staan in die Bybel en ek is nie eens seker vir wie almal hy die brood gebreek het nie. Maar hier staan ek in ‘n boer se huis en hy het vir my ‘n brood gebak. Here, my Boerkind, wat kan ek sệ”
Ek kon die skrik op die kind se gesig sien oor die Boerkind-ding.
“Hoekom is ek jou Boerkind, Lydia” het hy reguit in my gesig gevra.
“Ag, Boerkind, jy is maar my Boerkind, want ek weet Die Here het jou op my pad gesit toe dit moeilik gegaan het en Dieselfde Here het my op jou pad gesit toe dit moeilik was vir jou. Ek weet van jou verlies. Ek weet jou ma en pa is dood in ‘n plaasmoord, ek het die briefie in jou Bybel gesien. Maar nou is jy my Boerkind, ons is nou saam.”
Die kind het net daar gehuil, my om die lyf gevat, op die wang gesoen en ons het brood en sop geeet. Soos ‘n regte egte familie.
Ek het lekker gelees – mooi storie!
LikeLike
baie dankie dat jy lees…
LikeLiked by 1 person
Ek is bly ek het jou raak gelees – ek kuier lekker hier by jou. Hoop nie jy gee om nie ek het een van jou inskrywings op my blog gedeel, dat ander ook lekker by jou kan lees.
LikeLike
dankie…ek gee glad nie om nie….go for it
LikeLiked by 1 person
Lekker geskryf … dankie.
LikeLiked by 1 person
Baie dankie
LikeLike
Dis so mooi
LikeLike