KOORSBLARE

HBaron restaurant www 2008

 

Tannie Hessie en die Koorsblare
My mens, ek en ou Mister Babinski wat die antieke winkel het, daar tussen die sentrale en die poskantoor, sit nou die dag op sy rooi stoep en gesels.

Ek het weer op die lekker leunstoel gesit wat ek baie eerder in my voorkamer sou wou hê, maar hy wil heeltemal te veel vir die ding hê.

Die ou man het so skelm streek in hom. Hy loer orals op die klein plekkies waar hy rondkerjakker na die mense se antieke meubels. Ewe hulpvaardig verneem hy of hulle van die meubels wil verkoop. As hulle wil , bekyk hy die stuk van bo tot onder terwyl hy deur sy dik snor brom. Dan sê hy met groot spyt in sy stem dat dit nie veel werd is nie, maar hy sal uit die goedheid van sy hart vir hulle ‘n goeie prys gee. Mense trek maar swaar na die droogte en die peste en enige onverwagte geldjie is welkom want kinders moet eet en nuwe skoolklere kry. Hy koop dit dan by die stomme mense teen ’n appel en ‘n ei en verkoop dit ten duurste an die ryk boere in die omgewing.
Mister Babinski bly vinger alleen in die woonstelletjie bo op die winkel. Hy het blykbaar ’n vrou gehad, maar die het hom gelos en met ’n ryk Griek weggeloop wat die kafee op die hoek gehad het.

Siestog, mister Babinski is eintlik ’n goeie mens, ek veronderstel “business is business”. En vol wyshede.

“Miesies Benson…” sê hy die dag vir my en hy trek sy bo-lip op sodat sy dik snor tot so teen sy neus gaan. Dan byt het weer sy onderlip vas en speel met so bo lip op die baard. Met die sien ek dat daar op sy bolip ‘n koorsblaar sit wat hy kort kort natlek. Dis ’n aardigheid om te aanskoue. Lyk kompleet soos een van daai oer diere.
Ek hoor hulle sê om ’n man met ’n snor-baard toe soen is om soos sop met ’n vurk te eet, jy kan net nie genoeg kry nie. Ek weet darem nie …. Met daai ding op sy bolip …

“…hierdie nuwe teachertjie in die dorp is net moeilikheid” sê hy.

“Hi oe, mister Babinski. Hoe bedoel jy? Ek hoor dan sy doen sulke knap werk. Sy doen niemand kwaad nie en sy doen so goed met die Rudolph kind wat so sukkel om te spel.”

Mense, ek moet sê, ek hou nie daarvan om na stories te luister nie, maar hierdie storie kan vir my vat, ek sien hom.

“Yes, sy stap altyd hier verby met daai mooi rokkies aan. Sy kyk dan so onder haar kuifie deur na my kant toe. Dit laat my mos vreeslik ongemaklik voel. Party kere kom sy hier in en kyk na my ou meubels, maar nog niks gekoop nie. Loop van vertrek tot vertrek, beloer, begrou en bekyk. Dis ’n ongemaklikheid, Miesies Benson”

Dat die ou Jood vir my Miesies Benson sê is ’n aardigheid. Hoekom noem hy my nie maar net Hessie nie?

“Mister Babinski, hoe weet jy dat sy onderlangs loer? Hou jy haar dan so fyn dop? “

“No, No Miesies Benson. Ek sien wat ek sien. “

Ek besluit om die ding te los en nie verder met die ou Jood te stry nie. Dit raak soms net ’n onaardigheid.

“Miesies Benson, ons moet so thankfull wees,” praat hy in ‘n ander rigting, “kyk hoe mooi sit die wolke in die hemel en daai blitse sê dit gaan enige oomblik reën. Die boere het dit so nodig…” Mister Babinski was nog aan die praat toe is ek af met die stoeptrappies huis toe. Ek wou nog raad gee met die seertjie op sy lip maar die reën wat aangerol kom het toe my kop heel oorgevat.

Hy roep nog agterna, maar as die reën eers val dan kan ek maar al my gedroogde perskes wat op die sifdraad in die son lê, weggooi. Hulle is so amper amper droog.

By die huis gekom, help die oom om die sifdraad onder die dak in te kry.

Hierdie jaar is ’n wonderlike jaar vir perskes. Ons lê behoorlik in, kook konfyt, droog uit en eet sommer net so vars. Veral daardie Rooiwang perskes is heerlik vir konfyt. Almal wat perskes werk maak vir my pitte bymekaar. My oorle ma het altyd gesê ’n mens gooi niks. Alles het ’n doel en kan gebruik word.
Toe die sifdraad veilig onder die afdak is en ek besig raak met aandete beginne vreet die juffroutjie wat so vir Mister Babinski loer. Sy is ‘n mooie jong dametjie wat enige man kan kry en ou Babinski … wel laat ons maar net sê hy is nie ‘n oil painting nie.

’n Paar weke gaan verby, die perskes is mooi gedroog en verkoop op die dorpsmark toe ek een Vrydagmiddag toevallig die skoolklok hoor lui vir huis toe gaan. Die kinders stroom uit soos beeste wat vir weke lank op kraal gestaan het en nie nat of droog oor hulle lippe gehad het nie.

My tuinhekkie is nie te ver van die skool af nie en as ek mooi staan kan ek die skool sien.
En net soos ek sit met ‘n koppie tee, om asem te skep voor die brode in die oond gaan, kom die juffroutjie ook uitgestap.

Mens, te pragtag en so fyn. Sy het ’n bont sonrokkie aan met ’n mooi kragie, ’n stylvolle hoed met ‘n slap rand wat so oor die een oog hang en plat toe-toon skoene. Netjies. Prentjiemooi … lyk soos ‘n filmster soos sy stadig straat af stap onderdeur die peperbome.

Soos sy voor my plekkie verby gaan groet sy vriendelik met ’n “Middag Mevrou”

“Middag Juffrou,” groet ek terug. Sulke mooi maniere.
En terwyl ek gou gaan kyk of die plante by die hekkie nie aan’t verdroog is nie; kyk ek agter die oulike kind aan soos sy in mister Babinski se winkel se rigting stap.

My mens, daar aanskou ek ’n ding. Mister Babinski vlieg by daai deur uit asof die duiwel self agter hom aan is.

Soos die juffroutjie nader aan die antieke winkel stap, staan Mister Babinski al nader aan die kant van die stoep. Dan kom die fuffrou nog nader en hy gaan sit eintlik met sy een boud op die rooi muurtjie van die stoep en leun na die blombedding se kant toe aan die agerkant van die muurtjie.

Juffrou kom aangestap en Mister Babinski loer.

Die juffroutjie kyk nie eens links of regs nie, sy stap net aan en teen hierdie tyd lê Mister Babinski behoorlik agteroor en loer so aan die agterkant van die sement hoekpilaar verby.

“Haai tog, dat my oë tog nou dit moet aanskou” sê ek so in my binneste. G’n wonder die man het sere op sy lip nie. Dis sy hormone wat hom jaag. En net daar stoot ek my hekkie oop.

Die hekkie skreeu met die oopmaak en skreeu met die toemaak.

Ek suiker toe in die grondpad af, verby die perske bome en dan die peperbome tot ek by Mister Babinski se winkel kom.

Teen die tyd wat ek daar aankom sit hy ewe onskuldig op my stoel en lees kamstig ’n engelse koerant.

“Afternoon, middag Miesies Benson” groet hy en sit die koerant op sy skoot neer en haal sy bril met die halwe lense af.

“Middag mister Babinski” groet ek, “Hoe is besigheid, Mister Babinski” vra ek

“Oh, very quiet. Dis vreeslik stil” so asof ek nie engels kan verstaan nie.

…….en terwyl Mister Babinski nog so praat oor sy winkel wat stil is sien ek daardie rooi kol en die blasie op sy bolip. Die ding lyk soos iets wat op sy gesig aan’t groei is en ek kan dit deur die baard sien. Dit trek my oog soos ‘n hond se slagyster op ‘n sementpaadjie.

“Why are you looking at me like that? As Miesies Benson nou so vir my kyk” vra hy ongemaklik.

“Mister Babinski, ek wil my nou nie bemoei by jou dinge nie en ek is ook nie iemand wat ongevraagd raad gee nie, maar daai seertjie op jou bolip beteken jou binneste is nie lekker nie.
”Nooit, never. My insides are fine. My binnegoed makeer niks.”

As mister Babinski op sy senuwees raak praat hy eers Engels en sê dan dieselle ding weer in Afrikaans. Dit het net my vermoede bevestig dat die juffroutjie se verbystap sy kliere skoon opgeklits het.

“Ek ken ’n koorsblaar as ek hom sien. Wag net hier ek kom” sê ek toe.

Ek stap vinnig terug huistoe, kry ’n paar perskepitte wat ek in ’n ou koffieblik in die stoorkamer hou.

DIE BLOU BOTTELTJIE MET MY ‘NATUURMIDDEL’ SOOS EK DIT NOU MAAR NOEM WANNEER EK DIE OOM SE NATUUR SO BIETJIE MOET AFBRING STAAN ALTYD GEREED. MY MENS, EK WIL NOU NIE GRAAG SÊ WAT DAARIN IS NIE, MAAR EK SAL DIT NOEM, TER WILLE VAN OU BABINSKI. EK TREK ’N BLIKKIE DOEPA EN DUIWELSDREK OP ’N BOTTEL KOOKWATER EN DIT WORD INGEGEE 1 EETLEPEL 3 KEER PER DAG, VOOR MAALTYE. Ek kry ook die bottel kasterolie in my kombuiskassie en daar stap ek terug na Misber Babinski se antieke winkeltjie toe.

“Kom, Mister Babinski, kap hierdie pitte vir my oop. Ek wil so 3 of vier pitte hê. Moenie hulle fyn kap nie, maak net seker dat jy die binnekant mooi uithaal.” order ek die man.

Mister Babinki kap perskepitte en ek maak die binnekant van die pitte fyn. Ek meng dit ’n ’n ennamel skotteltjie saam met ’n bietjie kasterolie en sit dit in ’n klein botteltjie vir hom.

“Ditsim. Nou vat jy hierdie salf en smeer dit aan op jou nugtermaag, elke oggend” beveel ek hom. En dan vat jy twee eetlepels van die NATUURMIDDEL DRIE KEER PER DAG VOOR ETE. gemeng met bietjie lou water en bietjie bruin suiker vir jou binneste.

“Moet ek dit op my maag smeer” vra die man vir my.

“Nee man, moenie stuitig wees nie. Die smeer jy aan die koorsblaar maar op ’n nugter maag. En die drink jy vir jou …..”.. ek moet eers dink aan die woord …. “Insides. Jy moet eers aansmeer en drink, dan kan jy ontbyt eet,” probeer ek die storie verduidelik. Ek wou dit nog in engels doen, maar ek weet nie wat ‘nugter maag’ op engels is nie.

Ek los die mengel by hom en toe ek so met die 4 trappies afstap, kom juffroutjie die trappies op.

O mens, dis asof daardie Mister Babinski ’n toeval kry.

Ja, Mister Babinkski, dink ek so in die wegstap. My populierblaar mengsel wat in die bokvet gemeng is het genoeg skop om jou klier onder beheer te kry …. Jou emosionele senuwee het ‘n goeie ruskans nodig en dalk koop die juffroutjie iets as jy nie heeltyd vir haar loer nie.

Halfpad huis het ek begin giggel en teen die tyd wat ek in die kombuis kom het ek ‘n maag wat behoorlik pyn van die lag.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: