DIE DONDERWEER
die donderweer maak my bang
as sy laatnag deur die
hemel brul asof die wolke
oopskeur, oopbars, afdonner
tot onder by my voete.
Sy brul van horison tot horison,
van vlakte tot bergtop,
van rivier tot by die see,
en ek word bang want
sy skeur die hemel oop,
sy skeur die aarde oop,
sy skeur my hart oop
Die donderweer maak my bang,
as sy vroegdag die more-ster
wegblaas en die klank slaan
soos ’n kappende byl
teen ’n boomstamp. Sy ruk
’n tak af, sy ruk nog ’n rivier oop
sy ruk die aarde tot anderkant
die sekelmaan en aandster.
Toe word dit stil en sy
gaan lê soos ’n lammertjie
op ’n bultjie anderkant die
soutpan. Kom nou, rus
saggies. Rus nou maar
maak toe jou oë en
laat die drome kom,
laat die drome kom
Leave a Reply