EK BEDEL NIE
ek bedel nie, ek vra net
dat jy vir my ’n stukkie
van die dag sal pluk
en draai hom toe in net-vet
en braai dit op
’n kolevuur totdat
die vet-voke die donker
in skiet en klap-klap
die honger in
my maag nader roep
want elke maan wat
opkom is ’n nuwe dag wat wag
ek bedel nie, ek vra net
pluk ’n stukkie van
die maan af en
dompel dit in soet-soet vla
en gooi nog ’n
vanilla druppel op
die goud-geel vla en gee
’n happie vir die son
ek bedel nie, ek vra net
pluk vir my ’n stukkie van
die buffelsgras-pluim af
en blaas dit maan toe
sodat ek in ’n
wens kan ontvlug na
’n wêreld van vla,
sterre en die maan
Leave a Reply