Paul Roux
Tydens my Matriek jaar het my pa kontrak werk in Paul Roux gekry.
Ons moet sak en pak trek.
Ek wou nie trek nie, want ek het gehoor hulle sê daar is nie ‘n koor nie en ek wou koor sing.
Daar is ook nie ’n biblioteek nie. Praat nie eens van meusems en koffie winkels nie.
Langs ons in Paul Roux het Alexander gebly. Mense het hom sommer Alex genoem, vir kort, maar ek het gevra of ek maar Alexander kan sê. Dit klink net mooi.
“Jy kan my maar noem wat jy wil” het Alexander gesê.
Alexander was die mooiste matriek seun wat ek nog in my lewe gesien het. Hy was so mooi soos die heelal homself. Ek dink hy was die oorsaak dat ek die eerste kwartaal gedruip het.
In my wiskunde boeke het ek net klomp Alexanderstjies gesien, in my geskiedenis boeke was dit net Alexanders tussen die outydse datums en fotos, in my Aardrykskunde boek was Alexander al tussen die verskullende wolksoorte.
Ek was mal oor Alexander.
Hy was sonbruin gebrand, wilde kuif en ’n skoolbroek wat hy laas in standerd 7 gekoop het. Die broek is al te klein, maar ek gee glad nie om nie. Dis mooi. Dis baie mooi.
Hy het gerook en was rebels.
Hy het nooit sy skoolsokkies opgetrek nie.
Ek was ongewoon. Die mense het hulle kinders teen my gewaarsku, die skoolhoof het nie geweet hoe om met my te praat nie en die skoolsekretaresse het sou nou en dan vir my gesmile.
Sy moes geweet het van my en Alexander, want sy het soms vir my twee kit-kats gegee by die snoepie, al het ek vir een betaal. Sy het nooit iets gesê nie. Net gegee. Dan het ek die een vir Alexander gegee.
Ek weet nie of Alexander nice was net omdat ek vir hom kit-kats gegee het nie, maar dit maak nie saak nie. Darm was daar iets. Al is dit 3 stafies kit kat.
Almal was heeltemal gek oor Alexander. Ek die meeste.
“Alexander, is jy nie bang dat die mense gaan praat nie?” wou ek eendag weet
“Waaroor?” wou hy weet
“Omdat ek en jy so saam is”
“Ek wil he hulle moet praat. Ek is al lankal lus om iemand te bliksem.”
Dan het ek lekker gekry en net gesmile. Saans as ek alleen in my bed lê en lam word in die lieste, het sy woorde altyd soos ’n koor in my kom sing……”Ek gaan hulle bliksem”
“Alexander, die mense hou nie juis van my nie” het ek eendag gesê.
“Gee jy om?” het hy gevra en my met sy blou oë aangekyk en daar het duisende glimlaggies in sy oë gesit.
“Nie juis nie, maar dit moet seker lekker wees as almal van mens hou. Jy is dan so gewild” het ek gesê
“Dis maar net ’n ding. Ek worry nie oor hulle nie. Kom” het hy gesê
“Waarheen?”
“Jy sal sien. Kom net.” en daar stap ons na die rivier toe.
OP die wal van die rivier het hy sy klere uitgetrek en in die water gespring. Daai kaal, bruin, matriek-seun lyf het my vir jare en jare nog gejaag (in my gedagtes)
“Ek is te skaam. Ek kan nie uittrek nie” het ek gesê.
Hy het uitgeswem na die kant toe. Daar het hy op die wal gaan sit, goudbruin in die son en vir my gesê om langs hom te sit.
“Jy weet, alles is mooi. Mense neem mooi karre op ’n skou af, en dan neem hulle geroeste wrakke af wat in die veld staan. Al die prentjies beland tog iewers in ’n raam of plakboek. Ons is ook so. Iewers is daar ’n plakboek waar jou prentjie in gaan wees” het hy gesê.
Dis ’n heel ander Alexander wat ek hier sien.
Hy het stadig my hemp begin uittrek en ek het nie omgegee nie.
“Hey jy. “ het hy gesê.
“Ek worry nie wat mense sê nie. Jy het in my plakboek en ’n fotoraam beland.” en daar swem ek saam met die mooiste skoolseun kaal in die rivier. Dit was my raam-oomblik. My plakboek-dag. Sommer net so in ’n vuil rivier.
Leave a Reply