In Koffiefontein se onderdorp, net langs die Kanaal wat water vir die wingerde voorsien, woon die Oortmans. Sterretjie Oortman was saam met my in die klas. Sy was stadig en haar hare was altyd deurmekaar.
“Jy lyk soos ‘n perd wat verkeerde kant toe geroskam is” het haar ma altyd gesê.
Sterretjie Oortman het haar nie gesteur nie, want het van haar eie bos hare gehou.
“Dis mooi” het ek altyd vir Sterretjie Oortman gesê
Ek was vriende met Sterretjie. Niemand wou vriende met haar wees nie.
“Mense wat in hierdie dorp langs die treinspoor en die kanaal bly is almal dieslefde. Los daai mense uit” het my ma altyd gesê.
“maar Sterretjie is anders, Ma” het ek gesê
“Ja, ons weet. Hoeveel keer het die skoolhoof nie al die byl wat sy in haar skooltas dra, afgevat nie. Sy was al amper geskors oor die byl wat sy saamdra.”
“Julle sal nog sien. As dit aand word gaan dinge verander” het sy gesê en dan weer ‘n byl gaan koop
“Julle dink ek speel. As die son opkom gaan alles verander. Kyk maar”
Ek en Sterretjie Oortman het altyd met ons bene in die son gaan sit by die Munisipale Swembad en na alles wat ‘n stywe broekie dra en ‘n pols het gekyk.
Ek en Sterretjie was baie goeie vriende. Sy het soms vir my van haar rokke geleen, dan het ek dit aangetrek en ons het fotos geneem. sy het van my gehou nes ek is.
“Mens is soos jy is. God het jou so gemaak. As rokke vir jou mooi is, moet jy dit dra. Moenie worry oor die mense nie. Ek weet hulle sê ek is eenvoudig omdat ek langs die kanaal bly en omdat ek met ‘n byl rondloop, maar julle sal nog sien”
ek het nooit vir Sterretjie oor die byl gevra nie.
“dis my geheim, maar julle sal nog sien” het sy gesê
“Ek mag ‘n gebreekte wilde kind wees, maar as die son more opkom, gaan julle sien.” het sy volgenhou
My ma was raadop en het my vir ‘n week belet om uit die huis te gaan.
“Jy los daai mense uit”
ek het in my kamer gaan sit en na Sterretjie verlang. Na die rokke wat sy my geleen het, na haar geroskamde kop, na haar byl, na haar lag en ons ure van lekker kry langs die Munisiaple swembad.
‘n Week later kon ek weer by Sterretjie gaan kuier.
“Sy’s weg, en alles is jou skuld” het haar pa gesê
“Ons weet dat sy haar rokke wat ons gekoop het vir jou gegee. Trap van ons erf af”
Meteens was ek nerens welkom nie. Nie in my eie huis nie ook nie in Sterretjie se huis nie.
Ek het in die straat af gedrentel en net vir ‘n oomblik gewens ek kon vir Sterretjie weer sien.
Sy het die laaste druppels milkshake uit die glas geslurp en dan het die mense neuse opgetrek. Ek en Sterretjie het dan gelag.
In ‘n koerant by die Griek se kafee sien ek ‘n foto van Sterretjie.
Sy’s Dood.
sy’s sowaar dood.
Ek het die stukkie langs die foto gelees.
“Sterretjie Oortman is in die Wildtuin dood gekry onder ‘n Mopanie boom, met ‘n byl in haar hand. ”
Jare later sou ek hoor dat sy Wildtuin toe gehike het, met deurmekaar hare en die byl in haar tas.
In haar sak was ‘n briefie wat sy vir my geskryf het.
“Tokkelos” (sy het my altyd haar Tokkelos genoem, want ek kon toor)
“Tokkelos, ek wou hulle almal vrek maak, net soos hulle ons bome afkap en ons renosters verwoes. Maar toe is ek te laat. Sal jy my byl kom haal”
Ek het gehuil en haar gemis.
Ek wens daar was nog Sterretjies in die lewe om ons bome en Renosters te beskerm. Om net op te staan vir die waarheid. Om net die regte ding te doen.
(‘n storie vir almal wat ons woude en renosters help beskerm. Kyk maar uit vir Sterretjie, en beskerm haar)
Leave a Reply