DIE BOERKIND EN SY BLOMMEROK

DIE BOERKIND EN SY BLOMMEROK.
Toe ek so 9 of tien jaar oud was, het ons Namakwaland toe getrek. Tot vandag toe nog kan ek nie besluit of dit goed was vir my, of bloot net ’n straf. Ek sal seker nooit weet nie, maar een ding weet ek wel, en dit is dat Blomtyd in Namakwland ook droomtyd vir my was. Ek het blommetyd ’n bruid geword, of so het ek gedink.

Ons huisie in die dwarsstraat in Kamieskroon was maar so ietwat vaal, en ma het nie juis moeite gedoen om dit kleurvol te maak nie.

Vir wat? het sy gevra

Hierdie is maar ’n vaal wêreld, het sy dan bygelas.

Maar blommetyd het alles wat vaal is ’n kleur gekry. Geel, Oranje, donker pers, ligte blou, alle skakerings van groen wat jy jouself kan indink. Dit is soos ’n kind wat ’n kassie eyeshadow in die hande gekry het en haar hele besig bont besmeer het.

Dit was mooi.

Op ’n dag het ek die veld ingestap, ver, tot anderkant die windpomp op die kliprandjie waar die klipdassies so vir mens geloer het.

Ek het daar tussen die klomp veldblomme gaan sit. Versigtig het ek die blomme afgepluk. Party blomme met lang steeltjies en ander korter steeltjies. Ek het dan ’n lint gevat en dit om my kop gedraai en vasgemaak. In die lint het ek dan lang slierte van die geel katstert ingedruk om vir my lang hare te maak. Van die kleiner blommetjies voor ingedruk, so oor my voorkop om vir my ’n kuif te maak.

Met die pers vygies het ek vir my ringe en halssnoere gemaak. Ek was vir myself so mooi.

So het ek vir ure op die warm sand gesit en myself behang met blommetjies en linte. Ek het tot so ver gagaan en ’n blikkie blinkertjies by die portugees se winkel gaan koop. Ek het dan daardie stafie pritg-gom op my naels geverf en die blinkers daarop gegooi. Die mooiste blink naels.

So het ek elke dag tydens blomtyd in die veld gaan speel, tussen blomme waar klipdassies vir my loer en selfs, verbeel ek myself dan, hande geklap.

Tot op ’n dag toe die Rooigesig Joons kinders my ingewag het. Hulle het agter ’n rots gesit en gewag totdat ek mooi ingekleur is, toe hulle daar uitgestap kom en my met hande vol modder gegooi het. Weg is die katserte om my kop, my kuif lê op die grond en die res van die blomme wat ek aan my hemp vasgemaak het lyk maar treurig. nes ekke.

Die Rooigesig Joons kinders het gelag en gesê ek is ’n sissie en weggehol. Ek het daar bly sit, ek wou nog huil en jammer voel vir myself, toe ek die mooiste skoenlapper sien.
Hy was mooi, helder en het soos ’n ballerina beweeg van blom tot blom. Hy het my laat dink aan daardie movie wat ek gesien het waar die man ballet met so stywe broek en tonne make up.

Ek het stadig opgestaan en na die skoenlapper toe gestap. Ook probeer om glamouras te beweeg. Die skoenlapper het op ’n daizy gesit. Sy vlerke was so groot en het oor die blom gevou, nes my ouma se doilie met die kraeltjies oor die melkbekertjie.

Die skoenlapper het gefladder en na die volgende blom gevlieg. Ek het hom gevolg.
So dans ek en skoenlpapper van blom tot blom, kleur tot kleur. Ek het heeltemal van die rooi Joons kinders vergeet wat my met modder gegooi het.

Toe die son baie laag op die horison sit en die skoenlapper oor ’n draad vlieg en heeltemal verdwyn, besef ek dat ek verdwaal het.

Ek was eers bang gewees, maar toe ek op ’n klip gaan sit en met my blinkertjie vingers na ’n paar blommetjies vat om vir my ’n ruiker te maak hoor ek ’n stem ager my. “n vrou stem.

Ja, Stanley het sy gesê

Hallo Ousus, wat maak jy hier? wou ek weet en ek het probeer om die blomme op my kop af te haal en so ‘normaal’ moontlik te lyk. Ek was bang sy terg my ook. Ek was dalk ook bietjie skaam gewees….

Nee, kind, so die blomme aan jou. Dit lyk mooi, baie baie mooi het sy gesê en verder gepraat.

Ek het gesien dat daarrie ongemoontlike Joons kenners jou gegooi het met die modder. Hulle is woes is uit die wil uit, sê ek jou, praat sy

Hoekom het jy dan agter my aangeloop? wou ek weet.

Nee kind, vir wat staan en loop jy so vinnig. Ek kon nie byhou nie, my bene is moeg. Wiet jy hoe ver jy geloep het? wou sy weet.

Ja, maar ek is verdwaal, ousus, sê ek.

Dis orraait, kind, moenie bekommerd wees nie. Ek het saam met jou verdwaal. Kom ons sit nog ’n paar katsterte in jou lint en ’n paar blommetjies vir jou kuif.

En daar op ’n klip duskant Skilpad en anderkant Kamiesroon sit en ek Ousus en sy maak vir my die mooiste kroon van takkies, blomme, blare en stukkies vygies.

My Kind, vandag het jy ’n seer in my gesond gemaak. Sien, my man is dood en ek is nou alleen. Ek het jou sit en bekyk hoe jy hierdie blomme aankyk, hoe jy daai skoenlapper aankyk, hoe jy jou naels blink maak en toe weet ek dat daar nog mooi in die wêreld is….ons moet net weet wat om te soek en somtye is daai mooi hier onder jou neus. Kom ons gaan huistoe want vandag het ek saam met jou verdwaal en jy het my boerkind geword, hier tussen die blomme.

Advertisements

One thought on “DIE BOERKIND EN SY BLOMMEROK

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

w

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: