OUMA EN DIE SHOWCASE
My ouma het nooit daardie showcase in die sitkamer oopgemaak nie. Wel, nie waarvan ek weet nie. Dalk het sy dit oopgemaak as ons nie by was nie.
Toe ek so tussen 8 of 9 jaar oud was, het ek vir ure voor hierdie groot bal en klou showcase gesit en staar na al die beeldjies, poppies, pierinkies, en blink goedjies wat daarin is.
Die groot glasdeure was netjies toesgesluit met ’n goue sleuteltjie. Die kante van die kas was van glas sodat mens mooi al in die ronde kan stap en alles mooi bekyk. Daar was ’n boonste rak. ek moet altyd maar op ’n stoeltjie staan om die boonste rak te bekyk. Dan die middelste rak. Darm kon ek op die vloer staan en as ek op my tone staan kon ek die middelste rakkie bekyk.
Dan die onderste rak. Ek het dan op my hurke gaan sit en alles bekyk wat blink.
“Ouma, kan ouma nie asseblief van die goedjies wat in die boonste rak is op die onderste rak sit nie?” het ek eenkeer gevra.
Ouma het net so na die boonste rak gekyk, en dan na die onderste rak geloer en geglimlag.
Op die boonste rak was sulke ronde glasballe gevul met water of iets. Dan het daar ’n mannetjie en vroutjie so op ’n bankie gesit. As mens die bal skud het klomp blinkertjies so in die bal gedans. Dit was so mooi. En dis daardie einste bal wat ek op die onderste rak wou he.
Die volgende dag toe ek weer by die showcase kom, het ouma sowaar die glasbal op die onderste rak gesit.
“Ouam, kan ouma nie asseblief die bal uithaal en vir my skud nie?” het ek gevra.
Ouma het dan die bal uitgehaal en op die riempiestoel gaan sit. Sy het dit geskud en daar dans al die blinkertjies in die bal rond. O, dit was so mooi.
“Nou kan jy skud, dan moet ons hom bêre” het ouma gesê.
Ek het dan die bal geskud en die blinkertjies het die hele bal vol gedans.
“Sien, dis sneeu” het ouma dan gesê.
Ek het dan vir ure met daardie prentjie in my gedagtes geloop.
“Kom my kind, jy moet nou buite gaan speel, voordat jou ma raas en sê ek hou jou in die huis”
Ek het dan sleepvoet by die deur uitgeloop en onder die groot Pride of India gaan sit. Daar was so sementbankie. Op daardie bankie het ek drome gedroom van silwer sneeuvlokkies wat op my neerval.
Die volgende dag was weer dieselfde. Ouma het die kis oopgemaak, die bal geskud. Dan weer vir my gegee sodat ek dit kan skud en dan het ek onder die boom gaan sit en droom.
“Waar kom hierdie balle vandaan?” het ek eendag vir ouma gevra toe sy vir my melk en soetkoekies gee.
“Van ’n baie ver land af. Oorsee. Daar waar dit Kersfees sneeu.” het ouma dan gesê.
“Kan ek eendag na daardie land toe gaan?” het ek gevra.
“Natuurlik kan jy. Jy kan enige iets doen wat jou hart begeer”
Daardie aand het ek van ’n oorsese land gedroom met ’n koue kersfees en fyn blink sneeuflokkies.
Op ’n dag toe ek weer voor die showcase gaan hurk om die ronde bal te bekyk en vir ouma te wag sodat sy dit kan oopmaak, kom my ma by die vertrek in.
“Kom, ons gaan ry. Ouma is nie hier nie’ het my ma gesê
“Waar is ouma?: wou ek weet
“My kind, die engele het haar kom haal. sy is weg?’
“Na daardie land waar die kersfees sneeu? Waar die sneeuflokkies blink?” wou ek weet.
“Nee, hemel toe, Kind” het my ma gesê.
Ek was hartseer.
“Kan ek net onder die pride of india gaan sit?” het ek gevra.
“Ja, ek sal jou roep as ons moet ry”
Ek het onder die boom gaan sit, op die sementbankie. Daardie bankie was kouer as altyd. Die boom was vol pers-pienk blommetjies.
Ek het opgekyk en toe ek weer sien, begin die wind waai en al die blommetjies val op my neer. Net soos daardie bal met die glink sneeuflokkies.
My OUma moes seker met my gepraat het, want baie jare later, toe ek al mooi grootmens is, gaan ek na daardie land oor die see waarvan ouma my vertel het.
En daar in ’n winkelvenster sien ek net so bal soos ouma s’n.
Ek stap in en vra vir die vrou hoeveel dit kos.
Ek betaal en vat die bal. En toe ek dit skud, sien ek vir ouma en die pride of india met die sement bankie.
Toe hoor ek ouma vra: “My kind, het jy al ooit na die klank van sneeu geluister?”
Leave a Reply