Ousus en die Appelkooskonfyt (‘n Kortverhaal)

“More Ousus. Jy is vroeg hier vanoggend. Ek is nog in my kamerjas” sê ek toe ek net voor sewe uur by die kombuis instap en vir Ousus daar kry, besig om koffie in die groot blou pot te maak.

“Hoe meen Mevrou? Dis my tyd hierdie. Ek is elke oggend die tyd hier. Dis Mevrou wat laat slaap”

Ek trek die houtsoel uit en gaan sit by die kombuistafel.

“Die see is mooi vandag. Kyk hoe glad is hy” sê ek

Ousus trek haar oë op fyn skrefies en knik haar kop.

“Ja, Wilkie-hulle is reeds vanoggend met die skuite uit. Hulle sê die snoek gaan loop”

“Aai dis goed Ousus. Ons moet een kry.”

“Ja, ek het klaar gevra dat hulle die kuite van die snoek vir my in ’n sakkie moet sit. Dit maak heerlike vissop”

“Kuite? Waar sit ’n vis se kuite. Ek het nog nooit ’n snoek met kuite gesien nie” ek is so verbaas dat ek sommer my oë wil sluit in gebed.

“Mevrou, die vis se kuite sit langs sy kop. Jy vat dan kuite met kop en al en kook sop daarvan. Mevrou, daai is vissersmans kos.”

“O, jy bedoel die kuwe?”

Ek kon sien Ousus steur haar nie baie aan my woord nie en gaan aan met haar werk.

Ousus werk al in ons familie vir baie jare. Eers by my Ouma Pettie gewerk, toe by my ma en nou by my. My seuns is ook al uit die huis uit en woon in die kaap. Ek het besluit, nadat my man dood is, om uit die stad weg te trek en ’n heenkome hier op ’n klein weskus dorpie kom soek. Elandsbaai. Dis mooi hier.

Ousus moet seker al naby sestig wees. Sy het altyd so blou kopdoek aan wat sy so in haar nek met ’n groot knoop vasmaak. Die res van die kopdoek hang dan oor haar skouer tot amper by haar bors. Sy dra altyd ’n sonromp. Oor dit trek sy ’n blou jassie aan en wol pantoffels. Haar voete is nogal koulik het sy altyd gesê. Sy loop stadig. Altyd met haar oë op die grond en sy loop hande gevou op die bors of soms agter haar rug.
“Ousus, hoekom het jy destyds saam met my getrek en nie in Die Kaap gebly nie?” vra ek

“Hoe vra Mevrou so groot vraag vir my op my nugter maag. Ek kan nie die antwoord op daai vraag gee nie. Wag laat ek eers ’n ietsie eet”

“Maak sommer vir my ook ’n broodjie. En ek moet vir jou sê voor ek vergeet, die seuns kom die naweek huis toe. Albert het spesiaal gevra jy moet viskoekies maak”

Ek kan sien dat die blydskap in Ousus se oë kom dans. Haar hande raak sommer hastig met die roosterbrood en die konfyt.

“Ag Ousus, sit vir ons van daardie tuisgemaakte appelkooskonfyt op. Dis darm maar lekker so saam met ’n koppie soet tee” en ek weet ek kan nou my bestellings insit. Ousus is te gewillig om te help want die blydskap oor die kinders wat huistoe kom is te groot. Albert, veral. Sy het ’n baie spesiale plekkie vir hom. Hy mag nou al dertig jaar oud wees, maar hy sal altyd die baba bly.

“Mevrou moenie so van tuisgemaakte appelskooskonfyt praat nie. Dit maak die groot ontou in my los.”

“Hoe bedoel jy Ousus? Vertel alles”

Hierdie Mevrou van my al is altyd reg vir ’n lekker storie en dan dik ek vir hom so aan dat ek myself sommer beginne glo. Ek het al gesien as ek die oggend met ’n storie begin is die Mevrou ook sommer in ’n goeie bui die res van die dag. Soos my niggie Anna Pan se kinders altyd gesê het: “Ma plak net ekstra stamps op die storie”

“Kan ek maar vir Mevrou smeer of gaan Mevrou self smeer? Is Mevrou nog op daai dieet of ding of kan ek maar suiker in die koffie gooi?”

“Gooi maar suiker, Ousus en smeer maar my broodjie. Dis asof ’n lamte oor my is vandag. Seker die bergwinde wat alles kom deurmekaar waai”

“Mevrou, ek hoor hulle sê dis vandag daai warm bergwinde wat kom. Ons moet maar die venster toe hou om die huis koel te hou.”

Ousus vat haar broodjie en tee en mik stoep se kant toe. Toe sy die groot gaasdeur oopmaak en daai deur skreeu soos ’n varkie wat geslag word, keer ek met alles wat in my is.

“Nee, wag jy nou eers, Ousus. Waar dink jy gaan jy?”

“Ek gaan op die stoep sit. So teen die son”

“En wat van die konfyt storie. Jy kan nie ’n ding begin en vir hom net so los nie”

“Ja, Mevrou, my niggie, Anna Pan, was ’n snaakse mens. Altyd beter geweet, maar baie slinks. Sy het ’n plan vir alles gehad. Sy het by mense op ’n plaas gewerk, net buite Malmesburry. Baie ryk mense gewees. Die vrou van die huis het nie gewerk nie en die man was gedurig met besigheid weg. Anna Pan het maar bekend gestaan as ’n skinder-bek. Soos hulle in die distrik vir haar gesê het, sy is ’n Storie-lorrie. So is die mevrou van die huis die dag onmoontlik en Anna Pan moet net rondstaan. Sy sal toe later veneem dat baie vername mense van oorsee of iewers gaan kom kuier en alles moet spesiaal gemaak word. Die kamers moet spesiaal wees, die kos, die kaste. Alles. Man, en Anna Pan se senuwees is klaar. So sê die mevrou van die huis dat hulle maar moet konfyt kook sodat die Engelse mense onse konfyt kan proe. Anna Pan was toe nie baie lus om heeldag voor ’n warm stoof te staan en kook nie. Praat nie eens van appelkose oopmaak en pitte uithaal nie. Sy kry toe die wondelike gedagte by ’n ander niggie van ons wat hier van Namakwaland af kom. So bel Anna Pan die niggie en staan sommer so en skryf die resep op ’n ou koevert af. Tevrede glimlag Anna en beginne met die appelkooskonfyt.”

Terwyl Ousus nog so besig is om die storie te vertel, lui Mevrou se telefoon.
Ousus kan sien die Mevrou het geen plan om die ding antwoord te gee nie.

“Mevrou so foun lui. Antwoord tog”

“Nee man, hulle kan weer bel. Ek wil die storie hoor van jou niggie”.

“Nee wat, Mevrou, dalk moet ons maar die storie los. Dit gaan net gedagtes in Mevrou se kop sit oor konfyt kook. En ek het tog nie lus vir konfyt kook nie. Mevrou het mos daai gewoonte van as Mevrou ’n resep hoor of ’n program met kos kyk, dan moet daai kos gemaak word. Dis darm maar te erg.”

Ousus weet as sy ’n storie so net voor die einde los, dan raak Mevrou kriewelrig want sy wil mos nou alles weet. Dis maar ’n plan wat Ousus uitgedink het om die oggend koffie drinkery so bietjie langer uit te rek.

“Nee man, Ousus, vertel nou klaar. Kom sit hier by my dan vertel jy my. Asseblief tog man.”

“Nou goed. So stap my niggie met die koevertjie na die naaste plaaswinkeltjie toe om die bestanddele te koop. Sy koop dit sommer uit haar eie sak uit, want dis tog so min om te koop.
Toe sy alles het en terug stap huis toe, bedink sy alle planne om hierdie konfyt baie special te maak. So begin sy in die kombuis. Eers gaan soek sy ’n glasflessie vir die inlê. Toe grou sy in die mevrou se troussseau kist om ’n mooi stukkie lap en strikkie te kry. Toe dit mooi stil is in die huis, haal sy die blikkie appelkooskonfyt uit die sak wat sy gekoop het. Sy sny dit toe mooi oop, skep lepels vol konfyt in ’n bordjie uit. So maak sy dit fyn met ’n furk, sodat dit nie soos ’n blik lyk nie. So gooi ’n naeltjie of twee in. Meng dit weer goed en skep dit in die flessie. Hier en daar gooi sy nog ’n naeltjie in en strooi fyn naeltjies net vir die reuk. Om alles te top, maak sy ’n kers brand en drup was op die konfyt. Sy maak vir hom mooi toe, vou ’n lappie oor en bind hom met die strikkie vas.”

Ousus vat ’n groot hap uit die toebroodjie en met dieselfde vol mons ’n slukkie koffie.

“Ousus, maar dis vreeslik. Het die mense nie agter gekom nie?”

“Nee, Mevrou, hulle was blykbaar gek oor die konfyt. Gevra of my niggie nie nog sal maak. Hulle sal koop.”

“Moenie vir my sê dat sy dit toe gedoen het nie?”

“Ja, mevrou. So besigheid kom nie aldag op jou pad nie. My niggie het toe ’n paar botteltjies konfyt so gemaak en aan die spesiale oorsee mense verkoop. Goed geld gemaak.”

“Ousus, nou is ek darm maar regtig lus vir tuisgebakte brood en lekker tuisgemaakte appelkooskonfyt” sê ek.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: