ONS ALMAL IS OPSOEK NA IETS (kort storie)

Almal van ons is mos maar op soek na iets. As dit nie vir ‘n brief in die posbus is nie, is dit vir ‘n straatnaam. Sommige mense soek parkeerplek by winkelsentrums, sommige soek na iets wat hulle nooit sal kry nie. Dan is daar dié wat mooi huise soek met baie meubels, mooi dakke, baie kaste met honderde laai en duisende goed (net goed) wat in die laai rondlê. Baie eenvoudige mense is gewoonlik op soek na sleutels wat hulle iewers verloor het, tieners soek airtime, sommige simpel mense soek bokse om goed in te pak. Dan is daar dié wat niks soek nie. Hulle is net tevrede.

‘n Vriendin van my ma se vriendin wat in Kloofstraat bly, wou so graag ‘n kind soos ek hê.

“Nou hoe is ek dan?” het ek eendag vir Antie Petty gevra.

Antie Petty: “Ai, kind. Jy is tog so anders as al die ander kinders. Jy is anders as my eie kinders. Jy lees dik boeke, eksperimenteer met pruike en make-up en maak gewoonlik die mooiste skinkbord met teekoppies op as hier mense kom kuier.”

“Ai, Tannie Petty. Dis maar my geaardheid. Dalk a fase, mens weet nie, maar dis soos ek is.”

Tannie Petty het lank na my gestaar en toe het sy ‘n boek gaan haal.

“Lees,” het sy gesê.

Ek het die FAK oopgemaak en begin lees.

Antie Petty was ongelooflik dierbaar, maar die mense van die dorp wou nie met haar meng nie.

Hulle het gesê dat sy fortuin vertel en met die maan gepla is.

“Kan Antie my fortuin vertel?” vra ek nadat ek op bladsy 43 in die FAK van die boerseun en plaasnooientjie gelees het.

“Fortuin is ‘n lelike ding, kind. Maar ek kan sien dat jy eendag ‘n toga gaan dra en dat jy gaan ballet doen.”

“Ek ken nie die Bybel so goed nie,” het ek vir haar gesê.

“Nee, jy gaan nie preek nie. Jy gaan in die hof staan. Almal wil altyd iets hê. Jy gaan vir dié wat soek, gee wat hulle nodig het.”

Jare het verby gegaan en ek het al skoon vergeet van die toga, tot op ‘n dag wat ek die mooiste rok in ‘n winkel gesien het. Pikswart. Ek wou dit so graag gehad het.

Ek het ingegaan en die rok gekoop.

“Is dit vir jou ma?” vra die verkoopsdame.

“Nee, dis vir my.”

“Dis ‘n vrouewinkel,” het die vrou gesê.

“Kan ek betaal?”

Ek is daar weg met die rok en by die Wimpy se toilette het ek die rok gaan aantrek. Ek kon nie wag tot by die huis om hierdie beeldskone rok aan te trek nie.

Toe ek daai rok oor my kop trek en by die toilet se deur uitstap, val die dik vrou se pienk milkshake op haar skoot uit. Die kind verstik aan die Smartie op die banana split. ‘n Man wat aan ‘n burger knaag laat ‘n paar druppels tamatiesous op sy baard vassit.

Ek het by die toilet uitgestap, in die gangetjies af waar mense my aangaap. Ek het voor die flat screen TV gaan staan en gesien hoe Morné Steyn (die mooiste man op aarde) die bal oor die pale skop.

Die mense in die Wimpy het geskreeu en hande geklap. Ek het gebuig (soos ‘n vrou in ‘n outydse musiekblyspel) en gesmile.

Op daardie dag het ek geweet hulle klap vir Morné hande, maar ek het gekry waarna ek gesoek het. Net vir ‘n oomblik was dit lekker. Ek het toe vir die antie met die pienk milkshake gekyk en vir haar ‘n nuwe een gekoop.

Ons almal wil so graag hê dat iemand vir ons moet hande klap … al is dit in die Wimpy.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: