DIE KIND IN TUNISIA

dis nou 2:34.15pm

dis asof die son die dink

uit my brein brand, my breinsuiker

oor Tunisia strooi

die kind agter die tralies

se oe wat my met ‘n vraag

gooi…gooi…gooi

en ek bid tot Jesus Christus

en die Moslem vra my om

hom te red uit sy hartseer kyk.

Die son brand nog

stukke breinsuiker uit my brein

en ek vra Die Here God om

dit oor die kind te strooi.

Kind, vat my suiker.

Kind, vat my dink.

Kind, vat my omgee.

Kind, hou vas aan wat jy het.

Kind. Kind. Kind.

En toe knoop daai kind

die groot dink in my los.

Dankie Kind.

MY OU SKOEN

MY OU SKOEN
(en ’n vrot pampoen)

elke middag om vier uur
stap ek verby die skuur
dan straat af, hoek om
tot by die ou bloekom

waar ons as kinders
gevlieg het soos vlinders
en jy vir my raai-raai
laat speel, my liewe Meraai.

jy het vir my gevra
wat ek op my rug dra
en het gelag en gesê
dis my liefde wat daar lê.

ek het jou lief, Meraai
ja, wie sou kon raai
het jy gevra toe ek jou soen,
aan die heining hang my skoen

waarmee ek saans laat
tree vir tree stap, af in die straat
tot by jou om vir jou te sing
en ’n bos blomme te bring.

Meraai, my skoene is oud
en die dae word koud
want winter hang in die lug
en my gedagtes is op vlug

na die dag, ek en jy
teen die heining kon vry
maar nou is dit ’n vrot pampoen
en ’n stukkende skoen.

dis maar al

KOMBUIS

IMG_0265

die laatmiddagson warm die kombuis op

die kombuis ruik na kersfees, konfyt en koesusters.

Dalk nog ‘n stukkie pannekoek en kaneel vir die middagson

KOORS-ROOI-DAGBREEK

IMG_0253

ek het vir jou ‘n plaat opgesit.

sy het al die gunstelling songs gesing

en ons het weer in Hillbrow se

nagstrate gedans, totdat die son

koors-rooi oor die Ponte skyn

 

DIE TANDE-MUIS

SKOENE

stap saam met my

deur die roostuin.

Pluk vir my ‘n roos

en sit dit in my skoen,

net soos die tande-muis…

Want die rooi roos in

my skoen bring so bietjie

troos.

KAMEELNEK – TOSCANA

meng my onthou met

jou groen wat my toevou

met jou Kameel-nek

bome kronkel om en rond

Soos die dinge en goeters

uit my kronkel, Kameel-Nek pad

Soos die oortollig uit my rol

soos die heuwels in Chianciano Terme,

maak die nuwe sien in my oe oop

soos die klipstraat in Sienna

Krummel al die mense om my weg

soos die Kaas in Pienza Val d’Orcia.

Laat my alleen loop, sonder dink

maar groot hoop iewers in

Montepulciano, Montalcino.

want al wat ek oorhet is glo.

Glo….Glo….Glo…en Tuscany het

gese…Follow the signs.  seguire le indicaziono

VERLANG VAN ‘N GELIEFDE (vir Sattie)

Al my verlange hang

ek dag vir dag aan ‘n

takkie in die ou boom.

Al die dink aan jou

hou ek vas in my droom.

Al die dink en wonder

oor wat jou wou sệ,

die dag toe jy soos ‘n

klein voeltjie uit jou

nessie val, tot kaplaks

op die vloer.

Ek wens myself nog al

die tyd soos jasknopies

aan die verlang vas.

Jy is my jas vir die winter,

jy is my ou blou trui.

Die koue word min as ek

soggens, dou voor dag, my

arms deur die moue druk,

die westewind gaan lệ plat

op sy maag as ek die trui

oor my kop trek, regtrek en

vashou totdat die warm

soos ‘n son op my val.

Waar is jy nou, my jas?

Waar slaap jy snags?

Jy draf agter die sekelmaan

verby tot ek iewers in die

laatnag hoor hoe roep

Jy my naam, en toe

val jou traan saggies op

die maan…en ek weet

dat jy ook verlang, nes ek.

My jas…My trui…my maan

Blog at WordPress.com.

Up ↑